Daagliks sien ons hoe skoonmaakpersoneel maar ewe lojaal hulle taak verrig. Die aanblik van ‘n geel kennisgewing wat waarsku dat die vloer nat mag wees, is nie onbekend nie. Min verbygangers groet die werker, min kyk hom in die oë. Onbewustelik, en ongelukkig ook soms bewustelik, word hierdie werker dikwels geminag. As iets in ‘n gebou vuil is, word die vinger vinnig gewys. Maar as hulle besig is om op te ruim agter ons, word weer gekla omdat die afsperring van areas of ‘n nat vloer die klaer ‘n oomblik van ongerief sou besorg.
Stap ‘n oomblik later in die diensgang, en staan ‘n bietjie stil by die skoonmakers se ruskamer en stoor. Hierdie mense wat soveel moeite doen om ander se werks- en ontspanningsareas skoon en netjies te hou, het dikwels net die afgeskeepte hoekies in die gebou waarheen hulle kan ontvlug. Etenstye word in ‘n stoor deurgebring waar daar net ‘n koue sementvloer is, en waar die sigbare toestand van die vertrekke tot hulle beskikking, alles behalwe motiverend is. Ablusiegeriewe is min en veilige stoorplek vir persoonlike besittings ontbreek dikwels. Die, dikwels half stukkende uitskotmeubels van die res van die gebou, is die stoele en tafels waar tee gedrink word, waar middagete genuttig word. Min het al moeite gedoen om saam met die skoonmaker, selfs net een teetyd deur te bring en werklik die omgewing fyn waar te neem, 'n gesprek te voer oor die emosies daaragter.
Vertrekke wat met net een muur van die skoonmakers se area geskei word, is blink. Vertrekke met nuwe teëls en gordyne, die beste meubels. Al die ligte werk en daar is masjiene wat warm en koue water voorsien, soms selfs koffie en ander lekkernye ook. Personeel met dasse en aktetasse, of mediese uniforms, geniet hulle rustydjies in weelde. En reg langsaan, of een gebou verder, sien die skoonmaker dit met hartseer. Hy wat soveel moeite doen om die blinkmooi vertrekke te moet blink hou vir blink Stefaans en sy kollegas, moet self terug gaan na die afskeephoekies van die gebou as dit sy eie rustyd is.
Sal jy, nadat jy vandag hierdie stukkie gelees het, met ander oë na skoonmaakpersoneel kyk? Sal jy hom of haar bedank vir die diens wat hul lewer wanneer julle paaie kruis in die gange of in jou luukse kantoor of werkarea? Sal jy oplettend genoeg wees om hierdie dienswilliges se hartseer raak te sien, en ‘n drukkie te deel? Of sal bly kies om ‘n blinde oog te gee, en ewe neus in die lug, verby te stap, soms selfs ‘n minder vleiende kompliment te gee?
WSJD?