|
|

stof tot stof, stof tot nadenke: 'n stowwerige gegriffel
|
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!
|
Met dank aan God drie-enig vir al die seëninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!
|
| | | |
|
Riglyne vir die Kommisaris van ede
|
|
| | |
|
Ek verklaar...
Riglyne vir die kommisaris van ede
So dikwels, maak die mens ‘n verklaring voor blote menslike owerhede of ‘n menslike kommisaris van ede ter verkryging van sekere dienste of voorregte. Soms, voor vervolgingsowerhede wat bloot gedelegeerde gesag vir ‘n beperkte tyd dra, wanneer ‘n medemens aangekla word by ‘n polisiestasie se toonbank.
In die bespreking van hierdie saak, is dit belangrik dat ons eers die morele daarvan aanspreek voordat die tegniese aangespreek word.
Die morele:
Die neiging onder sekere van hierdie afnemers van verklarings, is om namens die verklaarder, ‘n dokument te skryf soos wat die amptenaar die situasie deur sy eie filter hoor. So ook skryf die afnemer, dikwels by verstek, die term “onder eed”, in die eerste reël van genoemde verklaring. Die verklaarder is gewoonlik naïef genoeg om sonder om die geskrewe dokument deur te lees, dit net te teken. Dit skep die risiko dat hy ‘n verklaring maak ooreenkomstig die afnemer se dikwels foutiewe interpretasie van sy woorde, en nie sy eie bedoeling nie. Dit kan hom ernstig inkrimineer in bepaalde gevalle, of enige latere ondersoek belemmer omdat die inhoud van die verklaring nie meer feitlik korrek is nie. Die grootste risiko is egter, dat verklaarder hier lynreg teen die voorskrif in Jakobus 5, steeds ‘n eed neem, wat sy gewete ernstig beswaar voor Vader self.
|
|
Die afnemer van 'n eed, wat 'n verklaarder probeer beïnvloed, selfs dreig, om ‘n eed te neem teen sy wil, ongeäg of die verklaarder ‘n wedergeborene is aldan nie, pleeg die oortreding van intimidasie. Dit tas die verklaarder se grondwetlike reg tot vrye assosiasie en aanbidding aan. Die amptenaar, in welke hoedanigheid ookal, wat hierdie druk toepas, kan dus formeel aangekla word van intimidasie. Die amptenaar kan ook nie onkundig pleit nie, want vanuit die aard van sy pos of posisie, word aanvaar dat hy die nodige kennis en opleiding sou hê om die hantering van verklarings van elke aard, op die korrekte wyse te hanteer. Om egter ‘n ongelowige ‘n eed te laat neem, sou weer moreel weinig beteken, want hy glo nie in die Entiteit wat hy aanroep tydens sy verklaring nie, en voel dus nie moreel verplig om die waarheid te respekteer nie. In beide gevalle, kan daar dus van een of beide kante af, geldige besware teen die aflê van ‘n eed wees.
Daarom is dit belangrik om kennis te neem van die voorskrifte vir die afneem van ‘n opregte verklaring. Hierdie verklaring dra net soveel gesag in elke aspek van regspleging, sonder dat dit die verklaarder skuldig maak ‘’n eedswering. Die opregte verkalring, beswaar egter nie die verklaarder se gewete voor Vader nie, soos met die geval van ‘n geswore eed nie.
Algemene daaglikse foute in die afneem van verklarings:
- Die verklaarder wat voorsien word van ‘n dokument waar sekere opsies geldig is en ander nie, met die versoek om te skrap wat nie van toepassing is nie, teken dikwels die dokument sonder enige skrapping. Die afnemer versuim dan ook té dikwels, om die verklaarder op genoemde vereiste te wys. Deur hierdie velde wat geskrap moes word, ongeskrap te laat, skep die geleentheid vir enige persoon wat daarna die verklering hanteer om deur latere skrapping, woorde in die verklaarder se mond te lê. Omdat die verklaarder die dokument geteken het, word die gewysigde inhoud van die verklaring, dus as sy eie woord en denkinhoud geäg en kan hy verantwoordelik gehou word vir die inhoud van die gewysigde verklaring. Wetend of onwetend, word hy dan skuldig aan valse getuienis, soos beskryf in Exodus 20.
- Daar word dikwels verwag van ‘n afnemer, om enige verklaring wat ‘n verklaarder wil maak, te moet doen. Sou die inhoud van die verklaring ooglopend onwaar of te dik vir ‘n daalder wees, mag die afnemer dit bevraagteken, en eers as hy gelukkig is met die redes voorsien, voortgaan. Indien dit steeds blyk dat ‘n verklaring vals is het die afnemer geen plig om hierdie verklaring af te neem of te bevestig nie. Daagliks, word sulke verregaande verklarings afgeneem omdat die verklaarder staatmaak op die haas of die belangeloosheid van die afnemer, om hierdie dinge mis te lees. Dit is veral maklik om hierdie soort verklaring gemaak te kry by die mees bekende verklarings-worsmasjien, genaamd ‘n polisiestasie.
- Sekere instansies bied ‘n voorafopgestelde verklaring aan verklaarders aan met die verduideliking dat dit ‘n standaard-dokument sou wees wat almal gebruik. Hierdie instansies verwag dan van die verklaarder om sonder verifikasie van aard en inhoud daarvan, die aangebode verklaring net so te onderteken. Soos in ‘n vorige paragraaf genoem, is hierdie opdringing van voorafopgestelde verklarings nie net moreel onaanvaarbaar nie, maar ook skuldigmaking aan intimidasie van die afnemer deur die afnemer. Elke verklaarder het die reg op die inhoud van wat hy teken, as hyself dit nie geskryf het nie, na te gaan, en onduidelikhede daarin, eers uit te klaar. Eers as hy volkome gemoedrus het dat die verklaring wel weerspieël wat hy op die hart het, hoef hy instemmend te teken.
Instansies wat hulle hieraan skuldig maak, is veral die volgende:
- Pensioen-agentskappe.
- Agentskappe vir gesubsidiëerde behuising.
- Kinderwelsyns instansies. (Meer hieroor later.)
- Versekering-eisagentskappe.
- Voertuig-administrasiesentrums.
Kinderwelsyns- instansies
Omdat veral die kinderwelsyns-instansies deur ondervinding bewys is as die instansies wat verklarings wild en wakker misbruik vir elke denkbare motief onder die son, word ‘n paar gedagtes hieroor, hieronder gedeel.
Baie van hierdie organisasies is denominasie-gebonde. Hulle maak alte dikwels gebruik van sogenaamde standaardvorms. In die haas en angstigheid om tog maar net ‘n kind te kan aanneem, onderteken kandidate dan dikwels dokumente wat hulle glad nie bedoel nie. Deel van die verklarings behels dan dat hulle kerk XYZ se kerkreg en dogma ondersteun en aanvaar, dat hulle aktief betrokke sou wees by verskeie denominasie begrensde aktiwiteite. Dan word aktiwiteite en benamings wat slegs van toepassing is binne kerk XYZ, gebruik. Op hierdie wyse word wedergebore mense wat nie lidmaat van kerk XYZ is nie, tegnies gesproke uitgesluit van die geleentheid om vakansie-ouers, pleegouers of aanneemouers te wees. Die ironie van hierdie voorafopgestelde verklarings, is dat so deeglik soos wat denominasionele vooroordele ingeskryf word in hierdie verklarings, net so deeglik ontbreek die die sake wat die kinderwet wel voorskryf baie dikwels. Baie ouers van ander denominasies wat desperaat is, onderteken dan maar die dokument net om die kans op aanneming te kry, wetende dat hulle ‘n vals verklaring maak. Dit word gewoonlik op ‘n eedswering-basis gedoen, lynreg teen Jakobus 5 in. Op hierdie wyse intimideer ‘n kerklike kinderwelsyn-instansie, dus die kandidaat om ‘n vals verklaring te bevestig deur swering op Vader se Naam. Godslasterlik? Menigmaal hiet die outeur van hierdie stuk, al die nodige aanpassings en skrappings op genoemde dokumente gedoen, en bygevoeg wat nodig om dit werklik wettig te maak. In elkeen van hierdie gevalle, is dit onvoorwaardelik aanvaar. Hierdie aanvaarding dui daarop dat die instansie se amptenare bewus is van die voorskrifte, maar om verskeie redes, kies om op gebaande weë te bly wat dokumentasie betref. Daarom maak hulle staat op die onkunde en naïwiteit van desperate kinderloses, om hulle binne-agendas te dien. ‘n Situasie waar dogma, groter outoriteit het as Evangelie of staatswet...
Die tegniese rondom verklarings:
Onderaan hierdie dokument, as bylaag, is ‘n uittreksel uit die opleidingsbrosjure vir huweliksbevestigers. Hierdie bylaag spreek die basiese basiese vereistes van die wet op Vrederegters en Kommisarisse van ede aan.
Verklarende notas verkry tydens ‘n konsultasie by die departement van justisie.
Na aanleiding van sekere onduidelikhede in genoemde bylaag, is navraag gedoen by amptenare van die departement van justisie. Enkele sake wat glad nie genoem word nie, is ook deur die gekonsulteerde amptenaar uitgelig. Die volgende insiggewende punte het na vore gekom:
- Art 33.2 (c) (vii): Volle naam: Weens die risiko van toenemende misbruik van inligting, soos verkry vanaf openbare dokumente, beveel die departement aan dat ‘n kommisaris van ede wat oor ‘n proffesionele registrasienommer beskik, slegs sy hoogste titel, sy voorletters en van meld, gevolg deur die registrasienommer en die naam van die registrasie-liggaam. Die verwyssing na die proffesionele registrasienommer, maak dit moontlik om die persoon te verifieër by die bepaalde proffesionele liggaam, sou daar wel dispute oor die tersake dokument ontstaan. Slegs in die geval waar die gemagtigde kommisaris van ede nie oor ‘n spesifieke registrasienommer beskik nie, geld die vereiste van die volle name en identiteitsnommer steeds.
Art 33.3: Gebied van registrasie: In die geval waar ‘n dokument ooglopend op Suid Afrikaanse scenario van toepassing is, of waar die liggaam van registrasie geografies gebonde is aan ‘n bepaalde land of gebied, kan die die gebiedvereiste uitgelaat word. (Hierdie subklousule is tans in die proses van skrapping.)
- ‘n Kommisaris van ede mag nie dokumente wat enige van sy eie belange of identiteit dien, sertifiseer nie. Ook mag hy nie sy eie verklarings bevestig nie.
- Blanko spasies: As daar in die inhoudelike area van die verklaringsvorm, blanko spasie oorbly na voltooïng deur die verklaarder, moet die afnemer in die teenwoordigheid van die verklaarder, ‘n duidelike horisontale streep direk onder die laaste reël van die geskrewe verklaring trek, en met minstens twee parralelle diagonale strepe die area benede deurkruis.
- Dit is wel nie voorskriftelik nie, maar wenslik dat alle verklarings in swart ink gedoen word, aangesien baie dokumentasie in die digitale era, deur aftasters ingelees word vir verwerking. (Moontlike wetgewing hieroor is in proses)
- Dit is ook wenslik dat die verklaarder in sy eie handskrif, die verklaring voltooi.
- ‘n Verdere aanbeveling (moontlike later konsepwetgewing) is dat ‘n ongeletterde persoon die geleentheid gegun word om ‘n vertroude persoon teenwoordig te hê, wat kan nagaan of die afnemer wel die ongeletterde se woorde, korrek weergee.
- ‘n Ongeletterde persoon mag sy vingerafdruk of ‘n geskrewe teken wat algemeen bekend is as identifikasie van genoemde persoon, gebruik as wettige vorm van instemming.
Oor die sertifisering van dokumente:
Om ‘n dokument te sertifiseer, impliseer dat die kommisaris van ede wat die onderteking doen, die dokument deeglik nagegaan het en sover dit visueel verifieerbaar is, geen vervalsings of verskille sien nie. In die geval waar die sertifiserings-beampte teenwoordig is met die kopiëring van die dokument, is sertifisering op grond van hierdie gegewe, dus ook moontlik. Sertifisering is nie net ‘n blote vinnige loer, en ‘n stempeltjie of twee druk en gou griffel nie. Dit skep die verantwoordelikheid om, sou ‘n dokument later bevraagteken word, tot verantwoording geroep te word.
Slegs dokumente waarvan die OORSPRONKLIKE gesien is, kan gesertifiseer word. ‘n Kopie van ‘n kopie, mag nie gesertifiseer word nie omdat dit reeds een of meer generasie van kopiëring deur is.
Die taak van die serifiserings-amptenaar is nie om die voorkoms of die versletenheidsvlak van ‘n dokument te kritiseer nie. Indien die verslete dokument presies weergegee word op die kopie, is dit ‘n geldige en sertifiseerbare kopie. Om egter die kopie kunsmatig mooier te laat lyk as wat dit werklik is, kom in hierdie geval neer op vervalsing, met gevolglike nie-sertifseerbaarheid. Sou ‘n ooglopende veranderde of “verbeterde” kopie gesertifiseer word, kan die sertifiseringsbeampte tot verantwoording geroep word en oor die vinger getik word op verskeie maniere.
Die outoriteit om as kommisaris van ede op te tree word gratis deur die staat voorsien. Dit moet dus ook gratis aan die klant gelewer word. Onlangse getuienisse van gekonsulteerdes toon dat van die verkeersowerheid se amptenare by Winternest, klante dikwels tot R50 vra vir ‘n sertifisering, sou die klant naiëf genoeg lyk om hulle weergawe te glo. Proffesionele dienste wat gelewer word, waarvan optede as kommisaris van ede, dalk deel sou vorm, se tariewe word nie geraak nie en die toepaslike proffesionele tarrief vir die lewering van die res van die dienste of fasilitering van ‘n proses, kan ten volle gehef word. Dit is en bly egter ‘n oortreding om vir die blote afneem van ‘n verklaring, of die sertifisering van ‘n dokument, ‘n fooi te vra, hoe gering ookal.
Geldigheidsduur van ‘n sertifisering: Alhoewel daar finansiële- en registrasie-instansies is wat verkies dat die datum op ‘n gesertifiseerde dokument nie drie of ses maande oorskry nie, is daar geen staatkundige beperkings op die geldigheid van ‘n gesertifiseerde dokument nie. Genoemde instansies weier slegs genoemde dokumente, omdat hulle vir een of ander interne rede, dit so verkies. Hierdie instansies se keuse van geldigheidsduur, reflekteer dus nie enige staatkundige regulasies of wette nie. Solank die inhoudelike sowel as die sertifisering op ‘n afskrif duidelik en onveranderd is, is dit onbepaald geldig.
Alhoewel nie ‘n vereiste nie, is dit ‘n ernstige aanbeveling dat die stempel wat die sertifisering-gedeelte aandui, in rooi sal wees. Stempels wat die identifikasie van die afnemer, die datum en die instansienaam aandui, is egter in orde in swart.
Opsomming:
Hierdie opsomming van die mees algemene wanpersepsies en misbruike waar daar ‘n kommisaris van ede by betrokke is, dien as riglyn om die alledaagse slaggate te vermy. Dit gee ook leiding rakende sekere onsekerhede wat in die harte van kollegas leef. Laat ons dus die verantwoordelikheid sodanig opneem, dat daar geen gewetenswroegings mag wees oor enige wanpersepsies, wat ons mog skep het in die hantering van hierdie verantwoordelikheid nie.
Om as kommisaris van ede op te tree is dus nie ‘n statussimbool of kwalifikasie om op te roem nie. Dit is ‘n blote vergunning van die staat om die funksionering van stelsels te stroomlyn deurdat hulle wat as verantwoordelik genoeg beskou word, die verantwoordelikheid gegun word om hierdie dienste te mag lewer. Dit laat egter die verantwoordelikeid op genoemde persone, om nie ligweg hiermee om te gaan nie, en seker te maak dat hulle daardie voorreg waardig bly.
Bylaag: 'n Uittreksel uit die kursus vir huweliksbevestigers
.
|