Die groot produksiehuise het hom die deur gewys. Primêre verspreiders het sy musiek as onkommersieël afgemaak. Ander wou nie na hom luister nie want sy diepsnydende waarhede het hulle geraamtedeure opnuut oop laat kreun. Maar vir enkele mense het sy goed deurdenkte sielsmusiek genesing gebring. Jan Hanekom kan ook 'n spoor in jou hart kom trap as jy sy jongste album, genaamd Spore, saam met jou huis toe neem.
Jan skryf die meeste van sy musiek self. Dit getuig van deurleefde ervarings en deeglike begrip vir die seer wat so baie van ons ronddra. Die genesende van hierdie uniek produksie lê daarin dat dit wat ons almal huiwer om publiek te bespreek, deur sy musiek publiek gemaak word en so bevry word van stigma en vooroordele. Dan is dit ook vir my en jou as luisteraar makliker om die dinge te herken, te erken en te hanteer.
Op Spore is ook gevoelvolle interpretasies van Johannes Kerkorrel se treffer, Die Anderkant, asook 'n verrassende weergawe van Helena Hettema se Tolbos. Lukas Maree se werk, Die Weduwee se kruik, klink ook vars en nuut op hierdie album.
Die titelsnit, Spore, sny diep spore in elke verlangende siel. Elkeen wat soms terugdink aan iemand wat nie meer daar is nie, sal iets besonders hieruit put.
Jan is beskikbaar om op te tree by 'n uiteenlopende reeks geleenthede.