stof tot stof, stof tot nadenke:
'n stowwerige gegriffel
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!

Met dank aan God drie-enig vir al die seëninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!

Loftus vir Jesus!!!
Artikels Indeks
Stof se Tuisblad
Kopiereginligting

As 'n volk saamstem voor Jesus en openlik aan Hom bely Hy is die antwoord, dan gebeur dinge. Nog nooit in die geskiedenis het Loftus Versveld so vol gewees nie. Nie vir enige sportgeleentheid nie, nie vir enige musiekfees nie. Jesus het meer aanhangers as enige sportspan, enige musiekster. Bywoningsyfers het getoon Jesus is die Koning in meer harte as wat enige musikant of sportspan ooit op kom roem. En dit is omdat Hy Homself onvoorwaardelik opgeoffer het om ons as mens te bevry. Omdat Hy deur Sy aardse sterwe vir die mensdom, alle bande gebreek het wat satan ooit kon hê om sy kloue in die mens in te kon slaan. Al die eer aan Jesus alleen. satan is oorwin. hy het geen outoriteit meer nie. En elke geredde mens wat Jesus se offer onvoorwaardelik neem, het die outoriteit om satan die deur te wys, en hy en sy trawante moet luister.

Een man was gehoorsaam. Hy het nie soos Moses gegaan en eers gekla nie. Hy het nie eers vir God probeer verduidelik dat hy nie wel ter tale is nie. Hy het geen verskonings gehad nie. Angus Buchan het die Stem van die Here gehoor, sy hart en sy plaas onvoorwaardelik oopgemaak vir Jesus, en op dié manier meer harte bereik as enige groot prediker. As 'n boer wat naby die aarde leer, het hy daagliks God se wonderwerke in sy lewe ervaar. Deur eerstehands 'n getuie te kon wees van dié wonderwerke, kon hy nie anders as om in gehoorsaamheid die bevrydende waarheid van Jesus en die Evangelie te gaan predik nie. Dit gaan nie oor die mens nie. Angus was bloot gehoorsaam. En ek glo hy sou ook verkies om nie eer hiervoor te ontvang nie. So kan elkeen van ons ook gehoorsaam wees. As Die Here jou roep, moenie vol verskonings na Hom toe gaan nie. Gaan en doen, en jy kan 'n kragtige werktuig in Sy hand word. In sy voetspore het verskeie musikante soos Jou Niemand, Louis Britz en Juanita du Plessis gevolg. En die resultaat, 'n geleentheid waar selfs menslike statistiek bewys het dat Jesus Koning is! Luister nou fyn na die Stem van die Here. Hy het jou waarskynlik alreeds geroep, maar jy was net te besig met jou eie dinge dat jy Hom nie gehoor het nie.

Kopieregkennisgewing:
Hierdie werke is die intelektuele eiendom van Stof. Klik hier vir volledige kopiereginligting.

Saterdag 19 Julie 2008. Loftus Versveld. Enkele gehoorsame mense en 'n skare wat saamstem. Jesus is Koning! Mario Steyn, Die Soweto stykkwartet, Angus Buchan, Nevil Norden, Juanita du Plessis en 'n skare gehoorsames wat met die ondersteuningsdienste gehelp het. Lofprysing wat die engele laat saamjuig het. Gebede uit 'n magdom harte wat opgegaan het. En 'n boodskap wat sê: Ons probleme kan opgelos word. God is almagtig. Hy kan en wil ons help. Ons moet net bereid wees om Hom onvoorwaardelik te dien. Om op te offer, van die kleinste tot die grootste afgodjies waaraan ons so vasklou. Om in gehoorsaamheid aan Hom onvoorwaardelik oor te gee. Om radikaal in Sy wil in te gaan. Sodra ons in Sy wil is, kan ons Sy oorvloedige genade ontvang. Ons hoef nie vas te kyk teen die negatiewe wat die sekulere media so in ons kele afdruk nie. Elke aspek van ons menswees, ons land, ons wêreld, kan herstel word - as ons net wil luister en binne God se wil kom. Die bevryding, die skatte en die oplossings lê al reeds gereed om te vat. En ons Vader sal dit vir ons gee die oomblik as ons Hom net weer volkome erken en doen wat Hy vir ons beskik het. Die totale oplossing is so eenvoudig. Is jy bereid om jou geheime afgodjies op te offer?

Is jy gereed om ten volle oor te gee? Dit kan jy alleen besluit. Niemand kan namens jou bely nie. Iemand kan namens jou 'n volkome oorgawe maak nie. Niemand kan namens jou afsien van jou klein geheimpies wat tussen jou en God staan nie. Hoe moeilik kan dit nou wees? Nader tot Hom en bely jou afhanklikheid, bely jou sondes, bely jou geheime afgodjies en raak NOU ontslae daarvan, en sien hoe word jy geseën! As 71000 mense dit Saterdag kon doen, waarom dan nie jy nie? Die oplossing vir jou persoonlike probleme, jou familie se probleme, jou land se probleme is gereed. Kies nou om dit te neem. In Jesus NAAM.

As jy jou hart wil oopmaak, stuur 'n sms na 0833906449. Meld in die sms jou naam, die buurt waar jy woon en kontakbesonderhede, en iemand wat werklik omgee vir jou sal met jou in kontak kom. Moenie wag nie, 'n paar minute later kan dalk net te laat wees...

© Stof 2008/07/19
.