stof tot stof, stof tot nadenke:
'n stowwerige gegriffel
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!

Met dank aan God drie-enig vir al die seëninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!

Brenda Burnit se jongste album: Strong in the broken places
Artikels Indeks
Stof se Tuisblad
Kopiereginligting

Brenda foto 701

Brenda se solo album Strong in the Broken places, is op 'n glansgeleentheid in die Performer Teater op 5 November 2007 vrygestel. Dit bestaan uit 12 treffers wat wissel van gesonde Afrikaanse Rock tot lekker nostalgie wat 'n mens lang paaie terug laat verlang. Brenda het ook gewys dat 'n vars interpretasie van verskeie bestaande treffers moontlik is en sy nie soos die oorspronklike kunstenaar hoef te klink wanneer sy hulle goed afstof en polleer nie. Dis 'n lekkerluister album. Kom dans saam as jy wil, of sit terug in jou stoel en drink elke stukkie van hierdie trefferproduksie in.

Tydens die vrystelling het 'n stamvol ouditorium die minute afgewag totdat Brenda haar verskyning gemaak het. Nardus du Plooy het het Brenda aangekondig en daarna was daar geen keer aan die skare nie. Toe Brenda op die verhoor kom, het sy 'n dawerende applous gekry. Haar selfvertroue het getuig van haar geloof in haar album en sy het nie teleurgestel nie. Nie eers 'n mikrofoon wat sy lyf vir 'n oomblik Murphy gehou het, kom haar laat weifel nie. Toe die passievolle klank van die mondfluitjie haar eerste snit inlei, het Brenda reeds elke luisteraar se volle aandag gehad. Brenda foto 702

Kopieregkennisgewing:
Hierdie werke is die intelektuele eiendom van Stof. Klik hier vir volledige kopiereginligting.

Brenda foto 704

Brenda se eie komposisie Afrikaner het 'n energievlak wat aansteeklik is. Maar dis meer as net 'n lekkerkry energieke nommertjie. Afrikaner definieer 'n mens wat nie skaam is vir haar Afrikanerskap nie, maar haar nie laat bind deur vooroordele wat tradisioneel soveel Afrikaners inhibeer nie. Dis 'n lekkerluister liriek met 'n aansteeklik koorgedeelte wat die duidelike stelling wat dit maak, deeglik onderstreep. En omdat hierdie snit Brenda se eie kompososie is, kan sy dit met soveel ekstra oortuiging doen. Die snit Afrikaner het die potensiaal om 'n nasionale treffer te word, want buiten dat dit musikaal die meriete daarvoor het, lewer dit skaamteloos kommentaar op vooroordele. Dit herdefineër die term Afrikaner op so 'n manier dat elke Afrikaner wat homself met hierdie lied vereenselwig, 'n trotse Afrikaner kan wees.

Die snit In my Room handel oor eensaamheid. Oor die verskil wat selfs 'n vreemdeling kan maak om eensaamheid te verdryf. Of dalk maar net die teenwoordigheid van ander te gebruik om eensaamheid te verskuil... Hierdie nommertjie moet jy, soos wat Wimpie, Brenda se man aan my gesê het, kliphard en oor en oor gaan luister. En elke keer as jy luister, kry dit vir jou meer en nuwe betekenis. Weereens een van Brenda se eie komposisies.

Mothers's Daughter is 'n huldeblyk aan 'n ma, maar anders as wat jy sou verwag, drup dit nie van soetsappigheid nie. Dit beeld die realiteit van 'n ma-dogter verhouding uit deur ook die eina en twyfel aan te spreek. Maar die konklusie is verrassend. Hoe gouer jy jou eksemplaar van die album aanskaf, hoe gouer kan jy hoor wat die uitkoms is...

Brenda slaag daarin om met 'n vars weergawe van Cat Stevens se Peace Train, weer hierdie snit te laat klink soos 'n spinternuwe treffer. Tog is dit wat hierdie lied deur jare so gewild gemaak het, behou. Maak seker jy bederf jou ore met hierdie lekkerkry nommertjie. Oor en oor, en sommer kliphard!

Boosaard vertel 'n sprokie. 'n Sprokie wat vandag nog elke dag afspeel. Oor die bly glo in die goeie prins, al is die prins soms nie altyd wat jy sou verwag nie. Menige prins het egter ook maar 'n ander kant agter geslote deure. Die deel wat sy onderdane buite, nie van weet nie... Kom luister vanuit Aspoestertjie se perspektief na hierdie treffende stukkie sosiale kommentaar.

Brenda foto 705
Brenda foto 706

In haar lied Closer skryf Brenda 'n lofgebed aan haar Skepper. 'n Unieke stuk aanbidding met 'n tikkie blues, maar sonder die weemoed wat so dikwels in Blues deurskemer. Hierdie getuienis van Brenda oor haar verhouding met God gaan nog baie aanraak, want dit is haar eie, as outeur en as sanger. Daarom kan jy hoor haar hele wese is in hierdie interpretasie. Heroorweeg nou ook sommer jou verhouding met jou Skepper. Hy wil jou ook "closer" trek - nou!

As Leonard Cohen maar net Brenda se interpretasie van sy stuk "Halelujah" kon hoor sou hy haar defnitief 'n pluim gegee het. En koning Dawid was ook maar mens. Maar die genade agter elke Haleluja, is dat dit uiteindelik tog 'n lofsang word.

Brenda se komposisie Your Eyes deel 'n tikke van die lojaliteit van mense wat hoekstene in jou wêreld word. Deur dik en dun. Weereens 'n stukkie belewenis wat elkeen van ons soms het. Kom ervaar 'n stukkie van jou eie lewe in Your Eyes.

Kom deel in 39 weeks die soeke na jouself. Hierdie snit gaan jou dwing om 'n hele paar keer oor en oor na luister. Dit is 'n lekkerluister lied oor introspeksie wat universele menslike ervarings meer toeganklik maak.

In die snit Afrika kan jy letterlik Afrika se noodroep hoor na die raaksien van sy ware hart. Kom deel in hierdie eerlike uitroep. Dit gaan jou denke oor Afrika dalkies net roer.

Fly Away stel jou voor aan 'n geheimsinninge vrou. Iemand wat jy dink jy kan peil, tot jy probeer. Daardie mens wat jy vanaand dalk net weer in jou drome ontmoet. Kom droom saam, hierdie reis is dit werd!

Moan Moan spreek elkeen van ons persoonlik aan. Hoe gereeld gebeur dit nie dat jy eintlik op verskeie gebiede oorvloed het nie, maar steeds onvergenoegd is. Laat hierdie snit toe om in jou hart in te sink, dalk lei dit jou net na 'n bietjie selfondersoek..

En skielik, as encore, weerklink die klanke van Afrikaner weer deur die ouditorium. Almal staan regop en die aplous is oorverdowend. En as Brenda en haar span die verhoog verlaat speel Afrikaner weer oor die huisstelsel en die video daarvan vertoon op die promosieskerms. Min mense kon hulle wegskeur van hierdie ekstra bonus. Toe die laaste klanke wegsterf, het die skare traag-traag die ouditorium verlaat. Hierdie snit is reeds bestem tot groot hoogtes.

Strong in Broken Places is 'n album wat jy net op jou rak moet hê. Dit is vermaaklik, dis nostalgies, dit kan jou laat dans. Dit getuig, dit spreek gewetens aan en dit herdefinieer jou vooroordele. Dit het verskeidenheid, dit het passie, dit het opregtheid. En die beste van alles, 'n immergroen album soos hierdie het beslis nie 'n vervaldatum soos so baie ander massaproduksiealbums nie. Dit kan 'n erfstuk word. Kry nou jou eksemplaar. Dit is die een stukkie musiekaankope waaroor jy nie spyt sal wees nie.

Brenda foto 703


© Stof 2006/03/19
.