|
|

stof tot stof, stof tot nadenke: 'n stowwerige gegriffel
|
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!
|
Met dank aan God drie-enig vir al die seëninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!
|
| | | |
‘n Luislike liegstorie
deur Lepi Luis
|
|
| | |
|
Luis loop mos annerdag so op sy agt pootjies na ‘n staatskantoortjie nadat hy geparkeer het. Omdat hy sy Luiswagen op ‘n laaizone geparkeer het, knoop ‘n vriendelike luis met ‘n keppie en ‘n Pepsi doppie op die skouer ‘n gemoedelike geselsie met hom aan. Nadat luis aan die keppieluis verduidelik het dat hy vandag bloot te lui is om vêr te loop, spreek die keppieluis sy seën uit oor die luis se keuse van parkeerplek, bêre sy pienk notaboekie en groet luis met ‘n broederlike, gemoedelike knik van die albei voelers.
Onder sy skubbe het luis ‘n paar papiere. Een is ‘n betalingsadvies van die luisraad vir sy luishuisliggie-dienste. By die luisraad gekom, sien luis sy luistiekies is te dun, en vra afslag. Net omdat luis so eerlik is, gee die luisklerk hom net daar een honderd persent afslag en gee hom die kwitansie dat sy luisliggies vir nog ‘n maand sal brand.
Oppad terug stap ‘n luis met ‘n groen, geel en swart keppie op verby die luis. Dit komplimenteer luis opreg met sy pragtige ligte pigmentasie, en lyk selfs effe jaloers daarop. Hy belowe ook opreg om sy beste te doen om al luis se staatkundige, politieke en sosiale belange lewenslank te beskerm en te bevorder.
Luis ry daardie Vrydagmiddag nes toe in sy luiswagen. Dis net na vier. Al die verkeersligte sincroniseer en luis stop net by twee geleenthede. As luis nodig het om van baan te verwissel, gee elke luistaxi hom dadelik ‘n gaping om in die verkeer in te kom en groet met ‘n grasieuse voelerknik.
Op die luiswagen se radio is dit nuustyd. Die omroepluis kondig met spyt aan dat die inflasiekoers hierdie maand met slegs sewe persent gedaal het en spreek haar wens uit dat dit volgende maand met nege persent sal daal.
|
|
Die luiswagen se oranje liggie gaan aan. Luis maak ‘n stoppie by ‘n pompstasie en joggieluis gooi die tenk vol. Luis gee die joggieluis tien rand en neem met dank sy kleingeld en strokie.
Die nuusbuletin op die luiswagen se radio gaan voort. Die minister van korruptiewe dienste het pas aangekondig dat nog vyftien tronke gesluit gaan word en as gastehuise ingerig gaan word. Dit volg op ‘n ernstige afname in misdaad en die gevolglike tendens dat al hoe meer tronke leeg staan.
Luis besoek die geloftefees. Die gasspreker is Julius Malema. Hy bring hulde aan die Boere by Bloedrivier en spreek sy waardering uit vir die lewensveranderende invloed wat hul op die geskiedenis gehad het. In sy rede vra hy om verskoning vir al die beeste wat sy voorvaders die paar maande voor Bloedrivier, by die Boere gesteel het. Hy onderneem persoonlik in te staan vir enige skades wat hulle gely het en het die nasate versoek om hom op kantoor te kom sien om die vergoedingsreëlings te finaliseer. Hy het verder die Boere verseker dat hierdie uitnodiging nie ‘n lokval is soos dié een, wat sy voorvaders vir Piet Retief gestel het nie, maar ‘n opregte en broederlike uitreik na sy naaste. Na sy rede, het hy gratis vierkleurplakkers uitgedeel en ‘n heerlike boerworsbraai aangebied as teken van sy opregte bedoelings.
Luis is net na skemer terug na sy nes toe. Oppad nes toe, is die paaie helder verlig, en die padoppervlaktes spreek van ‘n toegewyde instandhoudingspan. Die bourommel waar die tolhekke gesloop is, is ook netjies verwyder. Na berigte is die strukture geskenk aan werklose mense wat dit opgesny en as skrootmetaal gaan verkoop het. Op die betonblokke wat nog oor is, is daar borde aangebring met ‘n apologie aan padgebruikers omdat die operateurs van plan was om hulle so gewetenloos uit te buit.
So eindig nog ‘n dag in luis se lewe. Tuis gekom, knus hy homself heerlik toe in sy nes en luister na die uile, die paddas se sang en die rustige windgesuis van die stad. Met hierdie gerusstellende geluide in sy ore en die vars stadslug in sy longe, raak hy somer maklik aan die slaap. ‘n Nag van soete drome…
.
|