stof tot stof, stof tot nadenke:
'n stowwerige gegriffel
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!

Met dank aan God drie-enig vir al die seëninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!

Rioolstelsels wat disfunksioneel raak: Ons eie skuld..
Laat ons ophou om die owerhede te verkwalik.
Artikels Indeks
Stof se Tuisblad
Kopiereginligting

Streekkoerante berig alte gereeld oor inwoners se klagte oor rioolstelsels wat verstop, of in strate of riviere uitloop. Dié wat ewe trots langs die besoedelde straat, rivier, of oorlopende mangat poseer vir die foto's, se lyftaal is gewoonlik agressief, of gevul met gefeinsde gebare van weersin soos neuse wat toegedruk word of sakdoekies wat silwerskoon handjies afvee. Inderdaad, 'n goeie klomp akteurs wat ons in ons midde het...

Die finale paragraaf is die artikels hieroor, lees dan dikwels "Ons het teen druktyd nog nie reaksie van die Munisipaliteit af gekry nie." Heeltemal te verstane, want as die Munispaliteit vir elke enkele rioolverstopping wat hulle oopmaak, aan die media moet verantwoording doen, gaan hulle nie meer tyd hê om die werklike instandhouding te doen nie.

Nou sien Stof al hoe van die lesers van hierdie artikel, met 'n reuse grynslag grinnik onder die indruk dat Stof nou vir die Munisipaliteit 'n ding of twee gaan vertel...

Liewe kritici, Stof gaan julle teleurstel. Hy gaan julle leer waarom julle self, die grootste oorsaak is van hierdie stand van sake. Hy gaan julle leer oor hoe die sosiale wanpersepsies wat ons so koester asof die evangelies is, verantwoordelik is vir die sabotasie van hierdie dienste. Hy gaan jou leer hoe om deel van die oplossing te wees, en nie deel van die probleem nie.

Laat ons begin by die oorspronklike ontwerp, soos wat Vader dit self by die skepping geskep het. Toe hy mens en dier geskep het, het hy in hulle biologiese stelsel bakterië ingebou. Bakterieë met 'n roeping. Hierdie bakterieë word saam met die liggaam se neweprodukte geproduseer, sodat ontbinding van die neweprodukte onmiddelik na produksie, reeds begin. Dan het Hy ook eksterne organismes en bakterieë daargestel, wat sodra die neweproduk in die natuur beland, aansluit by die oorspronklike organismes en hulle bydrae kom lewer.

Kopieregkennisgewing:
Hierdie werke is die intelektuele eiendom van Stof. Klik hier vir volledige kopiereginligting.

Tot heel onlangs, het jy en ek hierdie Godgeskape stelsels gerespekteer en gebruik soos wat Vader dit bedoel het. Ons het self ons puttoilette en riooltenks gereeld met 'n stukkie vleis aangevul as dit sou blyk dat die proses stadig is, sodat die nodige natuurlike organismes aangelok kan word om hulle gewaardeerde skeppingstaak te kom verrig. So ook het ook ons wat reeds 'n plaaslike tenkstelsel had, toegesien dat dieselfde voorsorgmaatreëls nagekom word. Ons het fyn daarteen gewaak dat geen skuurmiddels of bleikmiddels wat kiemdodende eienskappe het, in ons afvoerstelsels beland nie. Nie eers per ongeluk nie. Ons het geweet, as ons dit sou doen, dan is dit onsself wat die gevolglike verstoppings en ophopings moes opruim. En Vader het geglimlag, want ons het Sy ontwerp gerespekteer en dit aangewend soos Hy dit bedoel het. As gevolg daarvan, was onsself en ons omgewing gesond. As gevolg daarvan, het ons selde nodig gehad om die afvoerstelsels met noodhulp te moes red.

Toe kom gesentraliseerde afvoerstelsels. 'n 110mm Pyp wat van ons neweprodukte van ons werf af wegvoer na 'n sentrale herwinningsaanleg. Die verwerkingsstelsel was meteens buite ons sig. So ook die moontlike probleme wat kan voorkom in die bedryf daarvan. Ewe selfsugtig het ons die gesindheid aangeneem dat ons mos nou betaal vir die diens, ons die reg gee, om veeleisend te wees. Dus hoef ons nie van ons kant af, billike voorsorg teen disfunksionering te neem nie. Dan mag ons mos maar, die reg tot misbruik ons eie noem. Die resultaat van ons selfsug en nalatigheid word mos nou die Munisipaliteit se probleem. En as hulle nie vinnig genoeg spring na ons piepstemmetjies nie, gaan daar pêrre wees...
Ons eie selfsug het dus veroorsaak, dat die arme munisipale werkers letterlik daagliks kniediep in óns neweprodukte beland...

'n Onnatuurlike paranoia oor bakterië en kieme en goggas, is egter een van die minder goeie dinge wat oormatige meganisering en "beskawing" gebring het. Die kapitaliste wat skuurmiddels, bleikmiddels en seepprodukte vervaardig, het die kans aangegryp en ons sakke begin dop met skoonmaakmiddels wat allerlei middels bevat wat ons natuurlike bakterië dood. En so het ons, ons eie sanitêre stelsels begin saboteer. Stof glo Vader kyk met hartseer neer hierop.

Vanuit tegniese punt maak ons onsself dikwels wys dat die stedelike rioolverwerkingsaanlegte meganiese skeidingstegnologie en verskeie sentrifugale selsels gebruik om die natuurlike prosesse heeltemal te vervang. Bloot omdat dit ons selfgesentreerde denkwyse en verbruikersmentaliteit pas... Hierdie selfgeskepte wanpersepsie word daagliks misbruik om ons gewetens te sus oor die gewetenlose manier waarop ons die natuurlike skeppingsorde onvêrgooi omdat ons onsself verloor het in 'n selfsugtige sosiale stelsel.

Die feit wat uit die oog verloor word, is tweeledig.
Die meganiese stelsels mag instaat wees om onder 'n matige werkslas, die verwerking te kan doen. Dié toerusting verouder egter, en word ook maar aangepak en verloor op hierdie manier rendement. Sodra die las dus groter word, is dit te verwagte dat daar moontlike disfunksies mag wees. En dit is net dan, wat ons sosiale disfunksie, by name kla en kerm, ook in werking tree.
Die ander gedagte wat ons gerieflikheidhalwe ontgaan, is die feit dat die neweprodukte per pypleiding na die verwerkingsaanleg vervoer word. Hierdie pypleidings het geen stelsels wat die ontbinding van die neweprodukte reeds aktiveer tydens die reistyd nie. En die Godgegewe bakterieë wat geskep is om die proses te hanteer, is doodgemaak deur ons chemiese skoonmaakmiddels waarop ons so trots is. Tydens die reis na die verwerkingsaanleg, is die risiko dat die rou neweprodukte weens die omvang daarvan, sowel as die gebrek aan natuurlike ontbinding, die stelsels oorlaai, die leidings verstop en noodwendig by inspeksiegate gaan uitkruip. Vanwaar die strate en die rivier maar die logiese bestemming is.

Dan kla ons. Ons eis drastiese en onbillike optrede van die reeds oorwerkte munisipale werkers. Ons dink nie in dankbaarheid aan die meerderheid kere wat die stelsels reg werk nie, en kerm steen en been as daar 'n probleem voorkom. As gevolg van ons eie toedoen...

As ons rentmeesterskap sou volhou, en ons weerhou het daarvan om ons vriendelike bakterieë en ander ontbindingsmeganismes te vermoor met ons selfsugtige chemiese vergrype, sou geeneen van hierdie probleme kop uitsteek nie.

Die eenvoudige versoek wat hierdie artikel opsom, is om jou rentmeesterskap te respekteer, en met trots na te kom. Dit is so eenvoudig. Weerhou jouself daarvan om van kiemdodende skuurmiddels, bleikmiddels en seepprodukte gebruik te maak. As genoeg van ons op hierdie manier weer die natuurlike stelsels die geleentheid gee om hulle werk effektief te doen, sal elkeen van ons verstom staan oor hoe goed Vader se skeppingsorde, ons lewens kan beter maak. Die meganiese verwerkingsaanlegte se las sal ook drasties verlig word en die slytasie daarop wat kon veroorsaak dat dit breek, soveel verminder. Ons sal weer met nuwe oë na die rede vir die skepping en elke Godgeskape stelsel en organisme daarin kan kyk. Ons al Hom weer opnuut kan loof vir hoe maklik dit eintlik is om ons kant te bring om Sy skepping, te bestuur ooreenkomstig Sy orde. En bo alles, ons sal kan laag kniel en bely, elke vergrype wat ons gepleeg het en deurlopend pleeg, deur slimmer planne as Homself te wil maak.

Mag hierdie artikel, elke leser inspireer om weer hand in eie boesem te steek, en ons rentmeesterskap ernstig op te neem. In elke aspek van ons bestaan. Dit is immers die een ding, waarvoor elkeen self sal moet verantwoording doen.

© Stof 2014/06/14
.