|
|

stof tot stof, stof tot nadenke: 'n stowwerige gegriffel
|
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!
|
Met dank aan God drie-enig vir al die seëninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!
|
| | | |
Hebsugtige tollenaars viktimiseer pendelaars
Hebsugtige aasvoëls viktimiseer masogistiese senderkopers...
|
|
| | |
|
Die FMpie waarvoor Stof so lief is, blaker mos pas die slegte nuus uit oor die tollenaars se hebsugtige vergrype aan pendelaars se reeds dalende fiskale bronne. Genadiglik besef Stof net betyds dat die radio self nie skuldig is nie en dus vlieg dit nie deur die venster nie. Die omroeper in die studio by Ifafi is ook net te vêr om hom gou persoonlik te gaan regsien...
Die hele deurpadtolstelsel en die wyse waarop dit beplan word om bedryf te word, is sosiaal gesproke oneties in elke aspek. Daar is geen morele gronde waarop dit geregverdig kan word nie.
Die morele dimensie rondom Louis en sy trawante se vergrype aan 'n medemens se gelykwaardigheid, word in 'n aparte artikel aangespreek.
Daar is ook massas administratiewe en rekenkundige swakhede, wat die slagoffers wat geintimideer is om senders te koop, bind tot allerlei onredelikhede en ongrondwetlikhede. Stof is egter nie ‘n rekenkundige, ‘n administrateur of ‘n kontrakkenner dat hy baie daaroor kan sê nie. Hy sal dit eerder los vir die rekenkundiges om uit te wys. Stof wonder net of Louis Vorster enigsins ‘n gewete het, dat hy sy tydelik gedelegeerde menslike gesag misbruik het om ‘n welbedoelende outa wat die pendelaar teen uitbuiting wou beskerm, publiek geboelie het en daarna ‘n Pontius Pilatus op homself getrek het...
Stof deel dus vandag die tegniese bekommernisse hier, waarop nie die tollenaars of enige iemand ander nog kon/wou antwoord nie.
Die posisie van die sender:
Op die windskerm word as aanbevole posisie genoem. Die probleem daarmee is dat dit die bestuurder se visie met 'n hele een derde inkort, wat hoogs gevaarlik is. Verder verhinder dit ook die windskerm om oopgemaak te word, wat tot gevaarlike wasemopbou en die gevolglike sigverlies in vogtige weer kan lei. Baie helms beskik ook nie oor windskerms nie omdat dit saam met 'n rybril gebruik word.
|
|
Die ander opsie wat amptenaar dus toe voorstel, is dat die sender op die tenk in 'n waterdigte houer gemonteer word. Dit is egter direk in kontradiksie met die aanbeveling dat daar 'n lyn van sig behoort te wees tussen die sender en die oorhoofse ontvanger, aangesien die tenk onder die vloerplaat sit, feitlik teen die grond.
Beide hierdie "aanbevole" posisies is dus of uiters gevaarlik, of tegnies onwerkbaar.
Indien die voorkeurkeuse tog sou val op die windskerm, word vergeet dieselfde helm ook dikwels op ander voertuie gebruik word en dus gereeld 'n diskrepansie tussen die senderidentiteit en voertuigidentiteit gaan veroorsaak.
Daar word ook verduidelik dat die kameras die voorste en die agterste nommerplate van 'n voertuig vergelyk en as een ontbreek of hulle verskil, word die owerhede van die "oortreding" in kennis gestel en die operateur word dan deur patrollievoertuie geviktimiseer. Dit skep ook probleme omdat slegs ligte, medium en swaarvoertuie wel met nommerplate voor toegerus word. Die res is vrygestel. Sou diegene wat dus van hierdie voertuie gebruik maak, vervolg word?
Met geartikuleeede voertuie sal die voorste en die agterste nommerplate noodwendig verskil, want die voertuigsamestelling verskil ooreenkomstig die operateur se behoefte. Sou die kameras dus waarneem dat 'n geartikuleerde voertuig se voor en agter nommerplate verskil, word die owerhede weereens in kennis gestel en word die arme operateur 'n paar kilometer verder weer deur die owerhede geviktimiseer.
‘n Verdere bekommernis gaan oor onklaar voertuie wat bo-op 'n abbawa vervoer word. Indien die onklaar voertuig met ‘n sender toegerus is, tel die tollenaarsontvanger beide die abbawa en die onklaar voertuig se seine op en word daar dus dubbelle uitgawes geregistreer, tensy daar 'n onwaarskynlike stukkie digitale tegnnologie is wat dit hanteer. Die eienaar van die onklaar voertuig het reeds onvoorsiene uitgawes weens die brekasie van sy voertuig, dus is verdere en ongegronde uitgawes beslis nie tot heil van sy gemoedsrus nie. Is daar ‘n stelsel wat nagaan of een voertuig bo-op ‘n ander se bak is en die nodige regstellings doen, of word daar net heimlik gehoop die klant sal dit nie agterkom nie en ewe grynslaggend fooie gehef?
Dus bly die verdere vraag, wat gaan word van die arme masogiste wat ewe naiëf senders gekoop het en reeds die verdagte kontrak geteken het.
En die belangrikste vraag: Pa het ons geseën met rentmeesterskap en die wysheid om dit te bestuur ooreenkomstig Sy wil. Om dus direk in kontradiksie met hierdie rentmeesterskap Sy eer in die gedrang te bring deur onder druk van menslike instansies wat Hom nie eer nie, te swig, se prys is mos onbetaalbaar hoog?
Wie kan dalk inteligente insette lewer oor bogenoemde bekommernisse?
.
|