Ek kan jou nie nou help nie, ek is te besig! Om besig te wees, te lyk of te klink is 'n statussimbool. Of is dit? Sou dit 'n prestasie wees om jouself ter wille van 'n openbare status van alle energie te stroop? Sou dit jou uitnemend maak as jy so besig is dat jy nie tyd vir die mense naaste aan jou het nie? So besig om materie te vergaar dat jy nie tyd het om dit werklik te geniet nie? 'n Leraar so besig met gemeenteadministrasie dat hy nie meer 'n herder is nie. 'n Uitvoerende kunstenaar wat 'n boodskap van hoop dra op die verhoog, maar nie tyd het om aan dié wat aangeraak is nie, daardie tikkie noodsaaklike omgee en opvolg te gee nie? Jou huis, 'n samestelling van boumateriaal wat jy van tyd tot tyd besoek? Jou gesin, mense wat geneties iets van jou is en so nou en dan jou gesig sien?
Sestien uur per dag se werk. Sewe of agt syfers in die bank. 'n Voertuig wat nou onlangs nog in die vertoonkamer was. 'n Huis met elke denkbare luukse. Hopelik ook met 'n gemaklike bed waarop jy kan gaan lê as jy binnekort uitbrand en dan nie meer kan voortgaan nie.
Neem vandag jou lewe in oënskou. Kyk net vir 'n slag in die spieël. Dalk sien jy tog vir 'n slag weer jou eie gesig. Dalk sien jy tog die verdorde gesiggies in die agtergrond, hulle wat eens vir jou kosbaar was. Dalk sien jy tog 'n siel in die masjien wat jy jouself noem. En dalk, net dalk, kan jy tog 'n tydjie afstaan om te ervaar hoe dit voel om weer volledig mens te wees.