|
|

stof tot stof, stof tot nadenke: 'n stowwerige gegriffel
|
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!
|
Met dank aan God drie-enig vir al die seëninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!
|
| | | |
|
Swerwersjoernaal is uittreksels uit ‘n reisjoernaal waarop ek saam met ‘n kunstenaar op reis was. Die volledige stuk is versprei aan hulle wat daarby belang het. Tog was hierdie reis, vroeg in Januarie 2003 ‘n ervaring wat ek graag met jou wil deel. Ek plaas dus ‘n geredigeerde weergawe hier en vertrou dat jy sal deel in die inspirasie wat ek daaruit geput het. Ek laat name uit, want dit is nie van belang vir die doel van hierdie publikasie nie. Tog wil ek vir elkeen wat hom- of haarself hierin herken, ‘n besonder woord van dank gee.
Swerwersjoernaal
Dit het alles begin met ‘n motor wat net wou aanskakel as hy so gevoel het. Ek het ‘n moedelose oproep ontvang, waarin ek gevra is of ons dan nie maar self die fout kan soek wat die outo-elektrisiëns tot op hede nie kon vind nie. Ons het ‘n rukkie geneem om, deur die ontstekingstroombane te volg en lesings op sleutelpunte te neem, vas te stel dat die imobiliseerder die probleem was. Ons het die beheereenheid verwyder en die oorspronklike Toyota verbindings weer herstel. Daarna het die motor aangeskakel asof daar nog nooit ‘n probleem was nie. Die wringkrag en stabiliteit van die masjien was ook verstommend meer. Dit het herhinder aan die onnodige bagasie wat ons so dikwels met ons saamdra, wat uiteindelik nie geluk bring nie, maar ‘n las word wat ons lewenswringkrag en -stabiliteit uiteintlik saboteer. Sodra ons die oormaat bagasie afskud, soos wat ons met die imobiliseerder in die geval gedoen het, kom daar meer sin en doel in die lewe as wat ooit oor gedroom kon word.
Op ‘n toetsrit is ons via ‘n buurt naby ‘n lughawe. Die rit, al langs die lughawe se heining af, het weer ‘n sprankelende getuienis deur ‘n inwoner van dié buurt wat deur ongemaskerde eerlikheid ‘n groot stuk genesing ook vir my gebring het, in my gedagtes laat opkom.
|
|
Met dankbaarheid uit die diepste dieptes van my hart, kon ek hemelwaarts kyk en bloot net sê ”Dankie Vader, dat U mense stuur om op die mees ondenkbare wyse, in gehoorsaamheid aan U, U boodskap van hoop oor te dra.” By die lughawe het ons by ‘n tafel buite die kafeteria gesit en ‘n koeldrank genuttig. Die gedagte om die “vryheid” waarmee die motor nou ry, te vier deur ‘n eksperimentele reis, het posgevat.
Dit was Dinsdag. Ons het besluit om Donderdag te vertrek. Op hierdie reis sou ons soek na vrede wat nie in die stad te vinde is nie, inspirasie om onvoltooide lirieke en sketse te voltooi, en wysheid om ‘n verskeidenheid probleme wat op daardie oomblik onoorbrugbaar blyk te wees, op te los. Amper soos uit Koos Doep se liedjie, behalwe dat hierdie swerwers wel ‘n vae idee van hul rigting gehad het. Later op die reis sou ons agterkom dat ons idee van rigting ook maar net relatief was.
Woensdag was ‘n geskarrel om afsprake wat beplan was vir die res van die week, in een dag in te pas. Juis hierdie herrangskikking van afsprake het onbewustelik reeds ‘n stukkie rigting gebring. Die besoek aan ‘n agent oor ‘n kritiese artikel wat ek oor een van haar kunstenaars geskryf het, het uiteindelik uitgeloop op ‘n bestiering van die Vader dat sy ons ideale gedeel het, en dus ‘n aanbod gemaak het om haar vaardighede en talente by ons projek in te werp. Die projek was een onderwerp wat tydens die reis baie bespreek en verfyn is en uiteindelik verstommend ontwikkel het. Ek glo dat hierdie voortydige gesprek met daardie betrokke agent, deel van ‘n groter plan is om weer sin te bied op verskillende lewensgebiede.
As gevolg van hierdie reëlings, sou ‘n afspraak wat ek baie graag wou nakom vroeg die daaropvolgende week, in die slag bly. Later sou dit blyk dat die reis juis die nodige wysheid en nugterheid asook sekerheid oor sekere aspekte van die samewerking met hierdie persoon in perspektief sou stel. Die afspraak wat dus sou volg na die reis, het dus as gevolg hiervan, soveel meer potensiaal om betekenisvol te kan wees. Tydens die skryf hiervan het die afspraak nog nie plaasgevind nie, maar ek weet dat die insigte wat die reis gebring het, ook sal bydra tot die sukses van hierdie afspraak.
Op daardie selfde Woensdag het ‘n instansie my geskakel en gevra dat ek ‘n vrag skenkings gaan oplaai. Die diesel wat hul voorsien het, was ook genoeg om die opvolgritte na die reis te kon ry. Daar het dus reeds voor die reis ‘n reeks wonders plaasgevind wat ons Vader se seën daarop bevestig het.
Hierdie reis was nie beplan op enige menslike wyse nie. Dit was nie vakansie nie en ook nie ‘n kommersiële musiektoer nie, alhoewel dit elemente van alles bevat het. Daar was wel optredes, daar was wel onderhandelinge, tog was die genesende hiervan die feit dat hierdie dinge nie die essensie van die reis was nie. Geen afspraak was op ‘n defnitiewe tyd of plek nie. Daar is ruim spasie gelaat vir leiding van ons Vader. Dit is in wese ‘n reis deur ‘n vrae en vrese asook onsekerhede waarop geen mens antwoorde kan kry in die sloergewoel van die stad nie. Dit is ‘n reis waarop meer artistieke inspirasie en essensiële antwoorde gevind is as wat ooit op enige ander wyse sou kon wees. Nog geen ander ervaring het soveel sketse, liedjies en afgeleide pennevrug op een geleentheid tot gevolg gehad nie.
Donderdagoggend om 05:30 het ons vertrek, deur Vereeniging na Parys toe. Aan die oewer van die Vaal op Parys het ons die oggend se skoonheid beleef op ‘n wyse soos nog nie vantevore gedoen is nie. Die Hiasinte verdring ‘n groot deel van die rivier, tog slaag die rivier steeds daarin om te vloei, om lewe daarin te onderhou. So duidelik het dit geblyk dat die hiasinte wat elkeen van ons se lewe probeer verdring, se blote teenwoordigheid nie rede is om maar net alle geloof en moed te verloor nie.
Na ‘n koeldrank en ‘n vullende ontbyt is die pad oor Vredefort na Kroonstad aangepak. Tussen Vredefort en Kroonstad staan daar ‘n ry pale waaraan daar vroeër telefoondrade gespan was. Op die enigste geknakte paal, het ‘n aasvoël gesit. Dit het dadelik die beeld van aasvoëlmense na vore gebring. Daar is honderde heel pale, maar dikwels kies ons self om op die gebreekte paal te gaan sit vanwaar ons ‘n verwronge uitsig oor die res van die gemeenskap het. Dan verwyt ons gewoonlik alles en almal vir die feit dat hulle op die heel pale sit terwyl dit my eie keuse was om die flenter paal te kies.
Op Winburg het ons die Voortrekkermonument besoek. Die geboortehuis van ‘n vorige Vrystaatse president het deur sy eenvoud getoon dat dit nie nodig is om met materie ‘n indruk te probeer maak nie. Op dieselfde terrein is ‘n bakkiespomp op ‘n ou put. Nadat ek fyn na die meganisme gekyk het, was dit duidelik dat ‘n bakkiespomp baie op dieselfde beginsel as die menslike psige werk. In die afwaartse siklus lyk die massa water daaronder dikwels so oordonderend, dat ek seker is ek gaan verdrink. As die bakkie dan die water tref, ervaar hy egter die vullende effek van lewegewende water. Oppad boontoe raak die vrag water soms swaar en kreun die skaniere maar, en dan vergeet ons maklik van ons seëninge. By die boonste draaipunt ervaar die bakkie ‘n mate van verligting, want nou help die platform dra aan die gewig. Net sodra die vrag draaglik raak en ons dink dat ons nou alles bereik het in die lewe, tuimel die bakkie om in die afleivoor en verloor al sy water, net om maar weer die hele reis van vrees, vervulling, stryd, en egoistiese voldoening te herhaal. Is dit nie maar die sloergang waarin soveel mense vasgevang is nie? In die museum het die uitbeelding van die rustige leefwyse en lewensgeluk ondanks min materie, opgeval. Met ‘n klein fraksie van dit wat ons vandag het, het ons voorouers ‘n lewe van vervulling gelei en so vir jou en vir my ‘n vaste fondament daargestel.
Op die perseel was ook ‘n paar beeste. Die kalwers se snoete was deur middel van ‘n harnas op so ‘n wyse aan hulle een voorpoot vasgeketting dat hulle nie die koei kon uitsuip nie. Sprekend van elke mens wat maar ‘n tyd in sy lewe ervaar waar die maklike bronne nie meer so maklik bekombaar is nie, en vaardighede aangeleer moet word om op ‘n langtemynwyse die volwasse manier van doen aan te leer. Dit is gewoonlik pynlik, maar die uiteindelike satisfaksie dat ek dit reggekry het, oorskry alle pyn.
Daardie aand het ons veilig aangekom op Bloemfontein en ‘n goeie nagrus na ‘n inspirende dag geniet.
Vrydagoggend het ‘n vyfsterontbyt het gereedgestaan en rondom ‘n tafel het ek weer gesien dat mense steeds vir mekaar omgee. Daarna het ons weer vertrek.
Ons het spoedig van die mal gedruis van die N1 afgedraai na Bethulie en met die stofpad langs die spoorlyn af, die kilometers kafgedraf. Die niks, niks en niks langs die Karoopad het iets van die grootheid van God oorgedra.
Op Bethulie het ons die ou begraafplaas plat geloop op soek na familiegrafte. Ons het wel drie van die grafte opgespoor waarna ons gesoek het. Die ervaring in die begraafplaas het die verganklikheid van die mens weer opnuut ingevryf in my wese. Ook daarmee saam die vrede daarmee dat almal, ook ek en hulle wat vir my kosbaar is, eendag sal heengaan, op ‘n tyd soos deur die Vader alleen beskik is.
Vanaf Bethulie het ons die pad geneem na die Verwoerddam met die oog op ‘n besoek aan Norvalspont, waar daar ook historiese familiebande was. Ons kon hierdie keer nie die dorp opspoor nie, maar op die damwal het die aanblik van die groot hoeveelheid water, my laat besef dat die mens met soveel vertrou word, soos om ‘n magtige bron soos water, in bedwang te mag bring. Dit is seker een van die grootste mosies van vertroue wat God in ons as Sy skepsels kon plaas.
Na Colesberg het die pad na Middelburg ons oor Noupoort geneem en heimlik het ek gewonder of dit die dorp is waar daar in God se Naam, mense verrineweer word in ‘n “dwelmrehabilitasiesentrum”
Die pad vanaf Middelburg tot op Graaf Reinett was lank en uitmergelend, en hoe dieper ons die Karoovlaktes ingery het, hoe eensamer het die landskap gelyk. Niks op niks op niks teen die agtergrond van derduisende identiese bossies en skape wat almal, asof nederig, kop geboë staan en vreet. So het ek ook waargeneem dat daar selfs in hierdie droë, op die oog af onherbergsame aarde, ook ‘n lewensbron vir mens en dier verskuil lê. So word menslike waarde-oordele dikwels op uiterlike norme gedoen en word ‘n waardevolle siel gereeld misgekyk omdat sy dop dalk nie so glansryk is soos wat die aanskouer dit graag sou wou sien nie, en op die manier word ‘n medemens se talente op ‘n wrede manier onderdruk.
Op Graaf Reinett het ons eers die pad byster geraak en uiteindelik seker die enigste mens wat daardie tyd van die dag wakker was vir hulp gevra. Minwetend, was dit goeie vriendin van die persoon wat vir ons oornaggeriewe sou aanbied het en is die pad gou gevind. Soos die Vader dit moes beskik, is sy ook die informele sosiale organiseerder van die dorp en het sy haar besonderhede vir my gegee om sodra ek terug is, met van die kunstenaars te skakel en te reël vir optredes op Graaf Reinett. Daar is ‘n pragtige teater wat feitlik nooit gebruik word nie. Voorwaar ‘n wonderwerk dat ons net twee blokke van ons oornagplek af moes verdwaal! Toe ons arriveer, het ons ‘n heldeontvangs ervaar. Gasvryheid het in oorvloed ons oorstroom en daar was aanvaarding en voorsiening van alles en nog wat nodig sou kon wees. Daardie middag is ons getrakteer op ‘n uitsigrit met ‘n bergpad wat ‘n boog on die een hoek van die dorp maak. Oppad uit is ons ook geneem na die bopunt van die voertuigpad van die Valei van Verlatenheid. Ons sou die volgende dag terugkeer. Terug in die dorp het ons ‘n vyfster aandete van keurig bereide hoenderslaai genuttig. Ek en my klawerbord het ‘n paar gedagtes en lirieke gedeel, ook dié lirieke wat weinig ander durf hoor. Die nag is daar geslaap in ‘n kelderkamer waar jare gelede ‘n sel was waar Gideon Scheepers na bewering aangehou is voor sy terregstelling. Geen wandelende geeste is egter waargeneem nie. My waarneming van die kamer was dat dit net ‘n kontinentale kussing in die venstertjie nodig het, dan het dit oombliklik die akoestiek om ‘n perfekte audio opname te maak. Die dooie terugvoer, die “klank” van stilte, het alles bygedra tot die perfekte akoestiek. As gevolg daarvan het ons tot laat in die nag met klawers, snare en stem daaronder geëksperimenteer, met verrassende gevolge! Nog nooit het Lisa se klavier, Skimme en Rondom die Vuur so geklink nie. Nog nooit het selfs my beste pogings om ‘n sinvolle geluid te maak, tot soveel gekom in een nag nie. Ek het myself geskok met die klanke wat wel voortgebring kon word. In daardie sel is gedagtes gebore vir sketse en lirieke wat beide van ons se koppe nog lank gaan besig hou. Niemand het tyd dopgehou nie, maar ek skat dat ons seker eers in die vroeë oggendure tot rus gekom het. Kort na ek ingesluimer het, het ek ‘n oproep van ‘n persoon gekry wat nie kon slaap nie en net nodig had om ‘n paar woorde te praat teenoor my. Dit was met dankbaarheid dat ek, nadat die oproep voltooi is, besef het dat die Vader my die voorreg gegee het om vir die persoon in die hierdie ure tot diens te kon wees sodat sy ook weer rustig kon gaan slaap. Sonder dat ek ooit daarvoor gevra het, het Hy dus vir my geseën met die vertroue van iemand wat dit normaalweg nie durf waag om oor hierdie geraamtes te praat nie. Daarmee het ook my dankbaarheid teenoor my Vader opgevlam vir die feit dat Hy die stukkie wat ek enigsins kan bydra tot ‘n ander se gemoedsrus, gebruik soos Hy dit goeddink.
Die volgende oggend het is ons getrakteer op ‘n unieke ontbytpiekniek in die natuurreservaat. Daar is ons bederf met pap, frikadelle, jogurt, lemoensap en ryskoekies. Ons gasheer moes terug dorp toe vir ‘n afspraak met een van sy klante. Daarna is ons weer terug na die Valei van Verlatenheid. By die laer uitkykpunt het ons die paadjie wat ons die vorige dag gery het, van bo af gesien. Dit was opvallend dat die landskap van bo af so dood, so leweloos en bar gelyk het. Tog onthou ek hoe groen die bossies was toe ons tussen die bossies deurgery het. So het ek weer bewus geword van hoe vinnig ons soms oordeel as ons ‘n saak of ‘n mens slegs vanuit een hoek raaksien. Die oomblik as daar ‘n tweede of selfs derde hoek van waarneming is, die mooi, die lewe en die sin in die ander raaksien. Deur my eie lewe het ek ook dikwels foutiewe oordele oor ‘n medemens gemaak ondat ek nie bereid was om ook die ander waarnemingshoek te beproef nie. Afstandoordele, soos van die uitkykpunt het die landskap onherbergsaam en genadeloos bar laat lyk, maar die oomblik toe ek moeite gedoen het om nader te beweeg en met my voete tussen die bossies te gaan staan, het ek die mildelike lewe en moontlikhede daarin raakgesien. So is dit dikwels nodig om eers nader aan ‘n ander te beweeg, te leer verstaan en oop te wees om dan betrokke te raak. Net daar het die verskil tussen ‘n bydrae lewer, en betrokke raak, weer vir my nuwe definisie gekry. Daar het vers vier van Skimwese my weer bygeval en ek was dankbaar dat dit my voorreg was om Skimwese te kon skryf. Ons is hoër op na boonste draaipunt. Vandaar te voet na die rant van die rotse wat oor die Valei uitkyk. Die rotse lyk soos ou ruines van ‘n amfiteater, asof daar eeue gelede sielvolle musiekuitvoerings daar kon plaasvind. Die akoestiek is so dat ‘n klankstelsel oorbodig is. Deur ‘n paar klanke die valei af te stuur, het die veelvoudige eggo’s wat teruggekom het alle verwagtige oorskry. Ek het heimlik gwonder hoe dit sou klink as ek ‘n lewendige uitvoering van supergevoelvolle musiek soos Eden, Phantom of the Opera, Skadus, Alleen, Waarom, en Huise van Glas daar sou kon aanhoor. Ek glo dat dit daar, soveel meer tot die siel sal spreek as wat dit ooit op ‘n houtverhoog sou kon. Hierdie visie het in my bly steek en ek vertrou dat ek tog eendag saam met van hierdie kunstenaars daar sal mag wees om hierdie droom-ervaring te mag beleef. Die natuurskoon, die uitsig, die eggos het as ‘n pakket my ‘n stukkie van die hemel laat ervaar. Nog nooit was ek op aarde, nader aan die hemel as hier nie. Maar soos die Karoo maar maak, het die intense hitte, die ongefilterde son en oorvloedige inspraak op my psige, sy tol geëis en moes ons die beskutting van die huis gaan opsoek.
‘n Middagslapie in die sel, en ‘n pikante ystee het weer die fisiese kragte herstel en daardie middag is nog ‘n paar gedagtes vir lirieke en musiek gebore. Die aand het ons weer musiek in die sel gemaak en die perfekte akoestiese omstandigdhede daar, het weereens gesorg vir ‘n paar konklusies op onvoltooide stukke wat al lank onvoltooid lê.
Sondagoggend het ons die voorreg gehad om ‘n erediens in die historiese Graaf Reinett kerk by te woon. Hierdie bywoning, wat aanvanklik gemotiveer is deur historiese oorwegings, het ‘n fantastiese dimensie bygekry toe die predikant ‘n boodskap lewer wat soveel antwoorde voorsien het op direkte vrae wat ek al aan my Vader gevra het in gebed. Die Amen het te gou gekom, en ons is terug huis toe. Daarna het ons op die tradisionele engelse manier ‘n elfuur-teetjie geniet by ‘n kennis.
Ons het na ete via Jansenville vertrek na Port Elizabeth. Op die rand van ‘n koppie het ons gestop om iets te drink en te eet om die uitputtingsfaktor van die Karooson te probeer oorkom. Ongeveer dertig meter van ons af het ‘n 400KV kraglyn die pad gekruis. Die absolute stilte van die landskap was so stil, so steriel dat ons die brom van die wisselstroom in die lyne kom hoor. Daar het ek weer die krag van stilte besef. Dikwels kruip ons weg agter ‘n groot geraas sodat ons nie ons gewetens hoef te hoor nie. Ook ons wat dikwels self die geraas maak onder die naam musiek. Die oomblik as die geraas ophou, vreet ons geraamtes ons weer van voor af en mik ons instinktief na maskers waarmee ons ‘n medemens bedrieg ter wille van ons eie oorlewing. Dan kos dit ‘n, dikwels lewensgevaarlike, 400KV kraglyn se bromklank om weer perspektief te bring.
Die heuwel, tesame met ‘n interresante ervaring enkele weke gelede het my daar op die idee van “Sproetjiesdorp” gebring. As ek gemoedrus daaroor kry, sal ek dalk nog iets met die Sproetjiesdorp konsep doen, alhoewel dit dalk baie riskant kan wees. Ons het op daardie punt weer bestuurders geruil. Ek kon dus al my aandag daarna aan die omgewing gee. Materieël gesien, het ons erg uitgebraai, was die rit alles behalwe ‘n plesier. Retrospektief gesien egter, het juis hierdie stuk pad ‘n klomp vasgeroesde emosies en weggesteekte idees weer na vore gebring.
Die middag laat het ons in Port Elizabeth aangekom. Die fisiese uitputtingvlak was so dat ons vere gevoel het vir die feit dat die sleutel in die motor toegesluit gebly het. Ons het eers ‘n hele ruk op die stoep by ons gasvrou gekuier voordat ons die krag bymekaar kon kry om die motor te probeer oop kry. ‘n Uur en ‘n half later was dit tog oop. Ons het ‘n bietjie negosieware by ‘n nabygeleë winkel gaan aanskaf. Die nag het kort gevoel, die oggend het dalk effe te gou gekom, en ‘n paar uur se ekstra sluimer sou baie nuttig ingekom het. Tog het ons maar ontwaak en eers ‘n afspraak nagekom wat noodsaaklik was. Daarna ander familie gaan opsoek. Oppad daarheen eers ‘n ent op Humewood se strand gaan stap, maar anders as met soveel ander skrywers, het die rukkerige seewind en sand wat seer teen my arms vaswaai, nie werklik iets goeds kon inspireer nie. Tog was dit goed, want tradisioneel is besoek aan Port Elizabeth seker nie volledig as ‘n mens nie minstens eenkeer ‘n strand bewandel het nie.
Toe ons daarna by familie arriveer, is ons weer gasvry ontvang. Na ‘n reuse beker tee en sakke vol liefde en omgee, is ons daar weg, terug na die huis waar ons sou gaan rus. Die middag het ons geslyt in die sitkamer waar ons ‘n heerlike kuiertyd met ons gasvrou deurgebring het. Op ‘n stadium het van haar vriende ook daar aangekom, en die kuiertjie het ontwikkel in ‘n musikale reis tussen stem, kitaar en klawers en ‘n heerlike verskeidenheid klanke en woorde wat die middag ‘n totaal ander dimensie gegee het. Daardie nag se rus was onrustig, tog genoeg slaap gekry dat ek die volgende dag genoeg energie gehad het dat ons die pad terug kon aanpak.
Ons het vroeg vertrek en op Cradock brandstof gekoop en ontbyt genuttig. So naby soos wat ek aan die hemel gevoel het in die Valei van Verlatenheid, so na aan die hel het ek gevoel met Cradock se hitte. Ons het verder tot op Hofmeyer gery waar ons weer ‘n wyle vertoef het om weer energie te kry vir die pad wat voorlê. Vanaf Hofmeyer het ons weer Verwoerddam toe gery en hierdie keer het ons wel Norvalspont gevind.
Norvalspont bestaan deesdae net uit enkele geboutjies en ‘n poisiestasie. Daar was egter geen grafte te vind van die oorspronklike familie wat ons eintlik wou opspoor nie. Ons het wel die konsentrasiekampkerkhof besoek en daar die was dit nogal vreemd om die massagraf van vroue en kinders wat ‘n geskatte vyf en twintig by veertig meter groot is te aanskou. Dit was steeds ongelooflik om te besef dat daardie hele stuk aarde in totaal die fisiese oorskot van ons voorgeslagte huisves. Hulle wat respekloos in groot gate gestort is en toegegooi is sonder die geringste geleentheid om ‘n eervolle begrafnis te mag beleef! Ek kon nooit visualiseer dat die oorlog soveel lewens ook buite die slagveld geëis het nie. Daar het die oorsprong van die liedjie Siembamba ook begin sin maak. Dit was eintlik skokkend dat sulke seer gebeure kon aanleiding gee tot die ontstaan van so ‘n ligsinnige liedjie. Na bewering beskryf die dinge waarvan ons in Siembamba sing, dit wat gebeur het met die kinders wat gebore is as gevolg van die verkragtings deur engelse soldate op Boerevroue en -dogters. Dan, is die liedjie Siembamba skielik glad nie meer so snaaks nie! En dit het hier, op Norvalspont, hier waar ek nou self staan en koud kry as ek daaraan dink, gebeur. Die grondpad uit, vanaf die begraafplaas tot by die teerpad het ons losgeskeur van hierdie bitter toneel. Tog bly die herhindering agter. Deur die enkele geboue op die dorp Norvalspont, oor die enkelbaanbrug, oppad Bloemfontein toe. Die laaste deel van die deurpad was fisies uitputtend, maar die herhindering aan Norvalspont het dalk daardie laaste deel van die pad Bloemfontein toe swaarder gemaak.
Op Trompsburg het ons ‘n versnapering geniet om weer krag te kry vir die pad verder. By die vulstasie waar ons vertoef het, het die pompjoggie ewe trots vertel dat die Volvo wat sopas daar gestop het vir brandstof, die Vrystaatse premier se ampsmotor is. Hy het sommer ook namens die provinsiale regering ook verskoning gevra dat die premier nie kon saamkom nie, en ons net die chaufeur te siene kon kry. Uit die ampsmotor het die rustige klanke van ‘n amper klassieke jazz gekom uit ‘n meesterlike klankstelsel wat iets van ‘n rustigheid in ‘n moë mens kon bring.
Na ‘n paar kilometer wat nogal lank begin voel het, het ons op Bloemfontein aangekom en by ons gasvrou vir die aand aangemeld Na ‘n musiekaand en aandkoffie waarmee ons bederf het, het die katel geroep en het ons ‘n nagrus geniet ter voorbereiding van die rit terug Pretoria toe.
Ons was die volgende oggend, na ‘n rit deur Bloemfontein, weer gereed om die laaste deel oppad Pretoria toe aan te pak. Op Winburg het ons weer ‘n ruil in bestuurders gemaak en ons is via Kroonstad en Vredefort na Parys waar ons weer langs die rivier ‘n versnapering geniet het. Die pale oppad Vredefort toe staan steeds, selfs die aasvoël sit nog. Die hiasinte groei steeds in Parys en die pad bly steeds dieselfde, maar hierdie keer met ‘n vooruitsig om behoorlik fisies te gaan uitrus na ‘n tuiskoms. Ook die vooruitsig om hierdie berg inspirasie te gaan vaslê op papier en dit sinvol aan te wend. Vanaf Parys weer die pad deur Vereeniging na Pretoria toe. Ons is met ons tuiskoms ingewag met ‘n heerlike maaltyd.
Konklusie
Op hierdie reis het ‘n klomp dinge waaraan ek moeilik byt kon kry, weer sin gekry. ‘n Klomp vrae wat nie antwoorde gehad het nie, het nou antwoorde. Motivering om sin te skep deur talente waarmee ek geseën is, begin stukkie vir stukkie kristaliseer. Gedagtes waarmee ek lankal stoei, maar nie geweet het wat om daarmee te doen nie, se konklusies het begin vorm aanneem. ‘n Proses wat moontlik op 6 September 2002 subtiel begin het, is opgevolg deur hierdie insigte. Geleenthede en deure begin oopskuif, al is dit net op ‘n skrefie. Tog is deure wat ek nog gehoop het oop is, ook finaal toegemaak. Ek moet juis nou in totale afhanklikheid van my Vader die wysheid afsmeek om hierdie geleenthede en insigte so te hanteer soos wat Hy dit vir my bedoel het. Toe ek jare gelede hierdie wêreld betree het, moes daar tog iets meer as net ‘n blote meganiese doel daaragter gewees het. Deur ‘n onverstaanbare pad het ek egter ‘n klomp vaardighede aangeleer wat dalk net so bedoel was om as pakket uiteindelik ook bedoel is as deel van ‘n getuienis vir ander, as heling vir hulle wat ook maar net ‘n meganiese bestaan voer.
En nou, ter afsluiting van hierdie joernaal: met waardering en erkenning aan die persoon wat hierdie wyse term op een van haar produksies gebruik het
“To all who have been kind or cruel to me”,
my allerbeste wense.
.
|