|
|

stof tot stof, stof tot nadenke: 'n stowwerige gegriffel
|
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!
|
Met dank aan God drie-enig vir al die seëninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!
|
| | | |
|
Vanoggend staan jy op. Vies dat dit weer ‘n werkdag is wat voorlê. Hulle vir wie jy omgee, jou gesin, ontgeld dit omdat die dag weer gebreek het. Haastig maak jy jou gereed om uiteindelik, sodra jy uitstap kantoor toe, ‘n goeie indruk op kollegas en klante te maak.
Hulle wat die naaste aan jou is, wat die liefste vir jou is, het jy egter reeds seergemaak, gedryf deur ‘n ambisie om ander te behaag. Op kantoor groet jy die bode met ‘n groot glimlag, jou sekretaresse met ‘n dubbelsinninge knipoog, die bemarkers met ‘n kommisieformule wat hulle so lojaal teenoor jou maak. Etenstyd betaal jy die ruim restaurantrekening waar jy en die klante was en is jy die ideale gasheer.
Later die middag is jy die hardekwas onderhandelaar wat een van jou verskaffers genadeloos probeer inboelie in ‘n transaksie waar jy net jou belange gedien wil hê.
Oppad huis toe is jy die padbuffel wat jouself alle regte toeëien en enige persoon wat nie vinnig genoeg registreer dat jy ‘n duur Duitse motor het nie, met vingertaal probeer verwilder.
By die huis aangekom eis jy dadelik jou aandete en die ekslusiewe gebruik van die aapkas en die koerant. In vrees en bewing laat jou dierbares jou met rus, want jy is mos moeg gewerk.
Jy is nie alleen nie. Manteldraaier, tweegesig en baie krasser terme is al gebruik om jou optrede te beskryf. Ek sou jou ‘n sosiale skisofreen noem, want jou voorhou van uiteenlopende maskers aan hulle wat verskillende rolle in jou lewe speel, is niks anders as skisofrenie nie. Wie is jy eintlik, watter masker moet ek glo. Is al die weelde, al die trap op ander mense die moeite werd as jy retrospektief en nugter kyk na al die kadawers op jou pad? Was al die ekstra transaksies die moeite werd as jy dit opweeg teen die gebroke mense wat jy agtergelaat het?
|
|
Waarom is hulle wat die naaste aan jou is, aan die kortste end. Waarom moet hulle wat jou gedra het tot hier, met jou swakste kant tevrede wees. Is dit nie tyd om hierdie sosiale skisofrenie te heroorweeg nie. As jy dit nie doen nie, mag jou Vader dalk op ‘n dag jou seën met ‘n siekbed, met ‘n tydperk waarin jy tot stilstand gedwing word. Moet Hom dan nie verwyt nie, want Hy het geweet, al wat jou tot jou sinne gaan bring, is ‘n gedwonge stilstand. Voordat jy Hom dan daaroor verkwalik, gebruik dan daardie tyd om al hierdie dinge reg te stel. En as jy weer genesing ervaar het, na liggaam en siel, waak dan daarteen dat Hom nie weer dwing om jou plat te trek om jou perspektief te herstel nie.
.
|