Op ‘n uitputtende dag na ‘n paar take verrig is, het ek moeg op ‘n grasperk gelê en probeer om kragte te herwin. Terwyl ek plat op my rug onder ‘n groot boom lê, hoor ek ‘n boodskaptoon op my telefoon. Moeg, en half vies vir die mens wat my nou al weer pla, lees ek dit toe maar. ‘n Teksboodskap, annoniem gestuur van af ‘n rekenaar, lui as volg: “Ek hoor die blou bakkie se wiele is almal nog hard. Ek hoor ook dat die bestuurder se wiele effe pap is. Ek het ‘n kompressor vir hom” Net dit, naamloos, maar bemoedigend.
Later die dag kry ek toe wel ‘n oproep van die sender. Iemand aan wie ek glad nie gedink het nie, wat self so besig is met ‘n besige lewe dat dit my verbaas het dat daar tog tyd was om ‘n papwiel-broer te help dra. Hoe die persoon geweet het dat my gees se wiele pap was, weet ek nie, wie op die perseel was waar die funksie was, en dit dalk gerapporteer het, weet ek ook nie, maar op die regte oomblik het hierdie gestuurde gekom en hoop weer sinvol laat lyk.
Meteens het ek besef dat baie van ons wel een of ander vorm van kompressor het, maar dit laat staan onder die stof. Party kompressors se lugtenks is al leeg, ander se laers selfs al droog. Hierdie belangrike stukkies apparaat waarmee ons geseën is om ander weer lugdruk te gee as hulle dit nie meer het nie, word nie in stand gehou nie. Deur een teksboodskap, deur een persoon wat haar kompressor vir my aangebied het, het die dag weer vir my betekenis gekry.
So word ook van elkeen van ons wat op een of ander wyse ‘n gawe ontvang het waarmee ons ‘n eensame, moedelose medemens tot diens kan wees, om daardie gawe te gebruik, te sorg dat ons lugtenks vol is, dat ons laers gesmeer is, dat die toevoer aangeskakel is om druk te kan genereer as dit van ons gevra word.
Wees vandag ‘n kompressor vir iemand wie se wiele pap is, wys dat jy opreg omgee, sonder bybedoelings of valse motiewe.