stof tot stof, stof tot nadenke:
'n stowwerige gegriffel
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!

Met dank aan God drie-enig vir al die seëninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!

Botterman
Artikels Indeks
Stof se Tuisblad
Kopiereginligting

Tydens ‘n optrede by ‘n gevangenis het een van die langtermyn gevangenes vir ‘n kennis ‘n stuk botter gegee uit dankbaarheid vir dit wat die span daardie dag vir hulle kom doen het. Hiermee dan ‘n paar gedagtes daaroor.


Botterman

In 'n geruite winkelsak, 'n stuk botter. Gemaak in 'n omgewing van grysheid, barre koue kamers waar karakter bloot 'n ilusie sou kon wees. Gegee aan 'n medesiel wat met passie 'n stuk omgee gebring het na 'n geslote en beperkte bestaan. Die een wat dit hoor, hoor 'n soete klank van bevrydende evangelie deur 'n talentvolle kunstenaar, en weet genadiglik nie van die paralelle lewe van verleiding en wellus wat net aan die ander kant van die papierdun voorkoms skuil nie.

'n Stuk botter, wat, met of sonder sout, romerig of afgewater, heldergeel of dof, meer geur sal verleen as enige delikatesse botterblokkie. Dit is gemaak deur hande wat veroordeel is, deur mense verwerp. Tog, as 'n hand so 'n uitnemende blyke van waardering kon maak, is dit tog nie moontlik dat dit 'n hand is wat oordeel dra nie. Oordeel deur 'n medemens, deur 'n owerheid wat splinters veroordeel, maar self handearbeid moet huur om hulle eie balke te help dra, het hierdie meestersjef gereduseer tot 'n ingeperkte.

Tog het hy vir sover as wat dit moontlik was, uitgebreek en met 'n hart meer opreg as dasdraers wat gefeins agter lessenaars wegkruip, 'n boodskap van omgee gebring. Deur 'n pond botter in 'n geruite sak word 'n siel geopenbaar wat deur genade nie ingeperk is nie. 'n Siel wat waardeer en raaksien, al wil die omgewing waarin hy hom bevind, hom reduseer tot 'n uitgeworpene.

Dié botter sal die hardste korsie sagmaak, die bitterste pap weer geur gee en as daar nog salf aan te smeer is, die wat die gewer veroordeel, se harte aangryp en hulle veroordelende harte tot verantwoordig roep.


© Stof 2002/03/02

Kopieregkennisgewing:
Hierdie werke is die intelektuele eiendom van Stof. Klik hier vir volledige kopiereginligting.

.