stof tot stof, stof tot nadenke:
'n stowwerige gegriffel
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!

Met dank aan God drie-enig vir al die seëninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!

Net een dag
Artikels Indeks
Stof se Tuisblad
Kopiereginligting

Dis donker wat my wil insluk, verswelg. Daar is geen lig in sig. Die spoke wat my jaag lyk so enorm groot, so vreesaanjaend. Daar is geen lig op die horison nie. Net die druk van mense en hul maaksels rondom my. Dan sien ek die klein-klein sterretjie. Net genoeg lig om een tree vorentoe te sien. So stap ek deur die donker nag en beweeg treetjie vir treetjie vorentoe. Die nuuskierigheid oor die toekoms verlei my soms. Dan probeer ek verder kyk. Dis juis dan dat ek my voet stamp teen die klippie reg voor my waar die lig wel skyn. Dan laat ek ek my blik sak en kyk weer na die volgende treetjie. Een tree op 'n keer. Tog bly die groot donker voor my my vreet. Waarom sien ek nie lig nie? Waarom is die groot dinge wat my bedreig so onopgelos, en die klein dingetjies wat van minder belang blyk te wees word so een vir een uit die weg geruim? Ek hoor dan my Here se stem en kniel nederig voor Hom as Hy met my praat.

"Ek gee jou elke dag genoeg vir vandag. Ek voorsien in jou onmiddelike behoeftes. Waarom kyk jy op en sien die groot vrese voor jou wat more eers oor jou pad kom? Ek gee jou genoeg lig om vandag se uitkoms te sien. Vertrou my, Ek sal ook in more se klein behoeftetjies voldoen. Maar bo alles, Ek is Meester oor die skepping, die hele heelal en alles wat daarop en daarin is. Dit wat vir jou so onoorkomelik lyk, is vir My slegs 'n gedagte vêr. Ek kan dit met een woord uitklaar. Stap dan nou verder in die lig van vandag, en vertrou My vir more. Moenie My vermoë onderskat nie. Ek voorsien vandag, more, oormore in jou daaglikse behoeftes, en op My tyd en op My manier, sal ek ook voorsien in dit wat vir jou so groot en donker lyk. Ek is getrou, Ek sal jou oppas en vir jou God wees."

Dankbaar vir Sy Vaderskap, verleë oor my eie ongeloof staan ek op, kyk ek op, en sien die stukkie lig hier voor my. Dan kla ek nie meer oor die kleinheid daarvan nie, maar sê dankie dat dit so onverdiend aan my geskenk is om my lig vir vandag te wees. Dan gaan ek weer op my knieë en vra vergifnis omdat ek in ongeloof gedink het dat ek alleen die klein, maar ook die groot, donker struikelblokke moet hanteer. weer kyk ek na die treetjie lig voor my, en sien Sy genade helder daaruit skyn.

Kopieregkennisgewing:
Hierdie werke is die intelektuele eiendom van Stof. Klik hier vir volledige kopiereginligting.

Here, vergewe my as ek soms in desperaatheid en in nood oorhaastig raak. As ek U magtige plan met menslike poings probeer verydel. Maak my oë oop vir U lig en leer my om die oomblik se vreugde aan U hand te ervaar. Help my dat die dinge wat my bang maak, nie my geloof in U sal laat kwyn nie. dankie vir U lig in my lewe. Leer my om dit ten volle tot U eer in te span.

© Stof 2002/02/18
.