|
|

stof tot stof, stof tot nadenke: 'n stowwerige gegriffel
|
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!
|
Met dank aan God drie-enig vir al die seëninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!
|
| | | |
|
Horende doof, vraend, maar nie bereid om die antwoord te aanvaar nie. Ek is seker jy het al daarmee te doen gekry in jou lewe. Die kern van "Sny die tou" het iemand op 'n dag met my gedeel toe antwoorde nie meer moontlik gelyk het nie.
Sny die tou
Soms is duister so swart, dat more nie meer in sig is nie. Sinmaak is dan 'n vae begrip, en rede om verder te probeer 'n blote illusie. Dan is uitkoms soms so naby, soms net een woord of gesprek verder. As daardie een stappie verder gegaan was, sou die bevrydende uitkoms die volgende dag so bevrydend kon wees.
Daar is 'n vertelling waar hierdie beginsel so treffend uitgebeeld word, waar 'n gebrek aan vertroue hom sy lewe gekos het.
Daar was 'n bergklimmer. Hy wou voor donker die bergtop bereik om daar te kan oornag. Die wind het egter baie sterk begin waai, en hom baie teruggehou. Later het die sneeu begin val. Hy kon nie meer sien waarheen hy oppad was nie. So het hy op gevoel voetjie vir voetjie vorentoe gegaan. Toe hy totaal en al uitgeput is, het hy 'n oomblik gaan sit. Omdat hy vermoed het dat hy naby 'n afgrond is, het hy sy ankertou vasgemaak aan 'n stewige rots wat hy kon vind. Hy het opgestaan om iets te ete uit sy rugsak te probeer haal, en in die proses gegly. Hy begin te tuimel, na benede. Oppad ondertoe het hy herhaaldelik vir God gevra wat moet hy doen, en desperaat gevra om genade. Toe ruk die tou hom tot stilstand. Steeds het hy gehang. Hy kon nie boontoe sien nie, ook nie ondertoe nie. Toe kom God se antwoord "Sny die tou". Hy het geskok geantwoord "Hoe kan ek, ek gaan dan na my dood toe val!" So het hy bly hang. Dit het nag geword. Dit was koud. Later benede vriespunt. Die lewe het hom stukkie vir stukkie verlaat. Net voor middernag is hy dood. Die volgende dag kry 'n reddingspan sy lyk aan die tou. Hy was net drie voet van vaste grond af.
|
|
Soos wat dit hierdie man se lewe kon red as hy net die tou gesny het, kan ons en ander lewens so dikwels gered word as ons net bereid was om een ekstra stappie te neem. As soveel van ons ontslape medemense net daardie ekstra stappie wou neem, en die tou gesny het, sou hulle vandag nog by ons gewees het.
As jy dus weer so diep in 'n donker gat is dat jy nie weet waarheen nie, onthou dat daar vir elkeen van ons 'n stuk genade dalk net een daad, een woord verder is. Vertrou dus iemand, en maak so die verskil. Jy is kosbaar, en kan nog soveel vir ander beteken.
.
|