As geen menslike poging meer iets beteken, en die omvang van die nood so groot word dat menslike denke en dade geen invloed meer het, dan is dit net God wat in Sy almag nog kan red. Om dan nog voort te ploeter in die moeras van menslike pogings en menslike slimmighede, waarborg dat die skip gaan sink.
Het jy al ervaar dat jy iemand vra om vir jou of 'n spesifieke saak te bid, en dan 'n antwoord gekry dat hy of sy, eerder iets sal wil doen. Dan breek dit my hart as iemand die almag en alwetendheid van God so laag ag dat hulle eerder nog 'n menslike poging sal aanwend voordat hulle na Hom sal gaan. "Ek sal vir jou bid, maar is daar nie eerder iets wat ek vir jou kan doen nie" Hierdie frase word so baie uitgespreek. Dit impliseer dus direk dat menslike pogings meer kan vermag as God se almag...
Ervaring leer dat elke projek wat aangepak word sonder om eers God se seën daaroor te vra, gewoonlik 'n klomp onaangename komplikasies het of totaal misluk. As ek dus weer vir jou vra om te bid, dan is dit juis daarin waar die doen lê. God sal jou hoor as jy opreg na Hom gaan en aan jou die wysheid gee om daarna te handel soos wat Hy jou sal lei.