stof tot stof, stof tot nadenke:
'n stowwerige gegriffel
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!

Met dank aan God drie-enig vir al die seëninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!

Verootmoediging
'n Voorwoord tot een van Stof se publikasies
Artikels Indeks
Stof se Tuisblad
Kopiereginligting

Tydens die neerskryf van my ervarings, het ek deurlopend 'n blok ervaar wat maak dat dinge nie mooi wou vloei nie. Ek het mettertyd die blokkasie opgespoor, en die volgende, wat ook as inleiding tot 'n ander groter eenheid dien, daargestel. Ek vertrou dat dit ook vir jou iets sal beteken.


Verootmoediging

Daar is geraamtes wat my elke keer daarvan weerhou om hierdie stuk te begin skryf. As ek begin, wil ek dit totaal en al eerlik doen, sonder om enigsins die waarheid te veswyg of te verdraai. Ek wil eers bely wat tot dusvêr maar net weggebêre is omdat ek te bang was om dit uit te bring. Ek wil nou dit wat nog in donker hoekies skuil, uithaal, verwerk en daarvoor vergifnis kry. Eers as ek al die kiste oopgemaak het, al die geraamtes beentjie vir beentjie uitgepak het, sal hierdie verhaal volledig wees. Ek kan seker, tipies mens, vir elke ding in my lewe wat skeefgeloop het, 'n ander die skuld gee, ander mense en entiteite verkwalik vir wat ek verbrou het. Dit sou so maklik gewees het om met 'n groot bohaai die hele wêreld uit te trap vir alles wat sleg is en te blameer vir my foute. Tog is dit nie so eenvoudig nie. Elke mens moet op 'n stadium in sy lewe kom dat eerlik na alles gekyk word. Dat die goeie, maar ook die slegte ongemasker uitgepak word en 'n totale prentjie gesien word. Dan is daar geen plek vir mooi verskonings, stories oor ander se onbekwaamheid, en vingerwyssings na 'n medemens nie. Dan is dit tyd vir 'n gesprek met my Vader. Met al hierdie dinge in my lewe uitgepak voor Hom, kan ek nie anders as om net in 'n klein bondeltjie by Sy voete te gaan sit en Hom in Sy almag te smeek dat Hy tog Sy oor vir my sal oopmaak nie. Dan om Sy genade smeek, en Sy vergifnis vir al hierdie dinge aanneem. Ek moet ook dan vir Hom vra om my die wysheid te gee om nie weer in dieselfde versoekings te val en dieselfde ou dinge weer te doen nie. Vra vir die wysheid om Sy uitkoms oordeelkundig te gebruik volgens Sy wil. Smeek dat ek nie weer voor selfsug en hoogmoed sal swig nie, maar deurentyd in afhanklikheid van Hom sal lewe. En as ek dan uit eiewaan optree, dat Sy Gees my sal berispe en weer op die regte pad lei. Amen.

Kopieregkennisgewing:
Hierdie werke is die intelektuele eiendom van Stof. Klik hier vir volledige kopiereginligting.

Met hierdie belydenis dan gedoen, kan ek nou uiteindelik voortgaan. Nou kan ek met die wete dat ek Sy volkome vergifnis ontvang het, dié getuienis met jou deel. Ek deel dit sodat jy kan weet dat jy nie alleen is nie, nie die enigte mens met donker hoekies en geraamtes is nie. Daar is volkome vergifnis vir my geraamtes en vir jou geraamtes, en die groot genade daaragter is dat jy niks hoef te vermag om te kwalifiseer daarvoor nie. Dis alles uit genade, onverdiende genade wat ons hemelse Vader vir my en vir jou wil gee. Toe kon ek voortgaan, en sonder verdere steuring dit wat ek wou dokumenteer, neerskryf.

© Stof 2002/05/01
.