stof tot stof, stof tot nadenke:
'n stowwerige gegriffel
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!

Met dank aan God drie-enig vir al die seëninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!

Tant Sofia en die Vrek
Artikels Indeks
Stof se Tuisblad
Kopiereginligting

Daagliks word daar fisiese gestremdes gesien, en tot 'n groot mate kry hulle baie ondersteuning en simpatie. Dit is mense wat ten spyte van die verlies aan een of ander meganiese funksie wat as 'n gegewe aanvaar word, geleer het om net so vrugbaar en sinvol deur die lewe te gaan. Hulle word dikwels as gevolg van enkele beperkings, in poste gesien waar hulle getipeer word.

Daagliks is daar egter 'n groter gestremdheid wat mense se visie vervaag tot enkele faktore van 'n lewe wat na regte so vol behoort te wees. Dit is die materieël gestremdes. As 'n item of entiteit nie in terme van finansiële terme uitgedruk kan word nie, maak dit nie vir hom sin nie. As daar nie 'n weeldemasker rondom hom kan wees nie, maak die lewe nie sin nie. Ondanks ydel woorde dat ander mense wel saakmaak, is daar eintlik 'n boodskap verskuil van eiebelang. Solank 'n ander hom kan dien, en tot sy gestremdheid kan bydrae, is die persoon goed genoeg. Solank as wat daar materie versamel kan word, en daar nie 'n mammonstekort is nie, maak niks anders saak nie. Die onheilige drie-eenheid, naamlik ek, ekself en myne regeer sy lewe met 'n ferm houvas wat hom so blind maak vir die werklikheid dat geeneen van die dinge wat werklik die lewe sin gee, aan hom bekend is nie. As dit blink, en dis myne, is ek gemaak, dan kan die wêreld my sukses aanskou en weet hier is iemand wat iets bereik het. As iemand vir my sê: "Ek bid vir jou" word ek kwaad, want ek het tog niks meer nodig nie. So word tonnelvisie daagliks al hoe erger en erger.

Eendag, in eensaamheid en op 'n stoepie van 'n ouetehuis, met kinders wat al begin het om die weelde te aas, begin die werklikheid deurdring. Dan is dit te laat. Die jare wat jy gehad het om sin in jou lewe te bring, het jy verspeel agter weelde en status aan. Nou onthou almal jou as die vrek, die een wat so besig was om al die luukshede af te betaal, dat jou naaste onder jou neus vergaan het van honger en koue. Jy was so volmaak, so sterk, dat dit nie nodig was om jou offergawe te gee nie, want net swakkelinge het mos Sy genade nodig. Waarom dan geld verkwis op naastediens en evangelisasie as ek dit kan aanwend om my eie sukses verder sigbaar te maak?

Kopieregkennisgewing:
Hierdie werke is die intelektuele eiendom van Stof. Klik hier vir volledige kopiereginligting.

Nou kloek die mense rondom Tant Sofia van die onderdorp, want haar staaltjies kom uit 'n vol, opregte lewe. Haar baksels is steeds wenners, want sy het dit self gedoen, jaar na jaar. Die mense verwys na jou as die ou vrek, die een met die wit handjies wat niks self kan doen nie, want die groot mond het ondergeskiktes 'n leeftyd lank rondgejaag en alles laat doen. As jy praat, is dit oor aandele, of jy kla oor die eenvoud en agterlikheid van jou mede-inwoners. Die matrone wat jou nie altyd eerste bedien nie, is 'n steen des aanstoots, en jy skaam jou dood vir die eenvoudige mense wat jou bure kom besoek.

Op jou begrafnis is daar 'n predikant, wat maar sukkel om genoeg te sê te kry, vier of vyf familielede wat jubel oor 'n erfporsie, en 'n betaalde vreemdeling of twee sodat daar darem genoeg kisdraers is. Daarna is al die treurendes rondom een restauranttafel versamel vir 'n eksotiese afskeidsete. En toe was jy nie meer daar nie.

Toe Tant Sofia heengaan, was die kerk te klein, mense het buite gestaan, die begraafplaas so vol mense wat kom groet het dat daar 'n ekstra klankstelsel aangebring moes word. Die gemeenskap het gekom en die rye tafels gevul met tuisgemaakte snoeperye, en diep in almal se harte, was die hartseer eintlik 'n blydskap, want dit wat Tant Sofia 'n leeftyd lank in mense belê het, kom nou oorvloedig na haar toe terug in die arms van haar Hemelse Vader. Die dorpsblad het 'n artikel oor haar op bladsy drie geplaas, en daarna 'n reeks artikels oor haar resepte, wenke en goeie herhinderinge. En vir sover ek nog kan onthou, was daar altyd vars blomme op haar graf en mense wat daar kom kuier het, het sommer net kom gesels, want haar oor was altyd oop.

Ou Vrek se graf is eenmaal 'n jaar deur 'n munisipale werker afgestof op sy roetine, en dan het ta met heimwee gekyk na Tant Sofia se graf, en die ounooi onthou was hom nog altyd met respek gegroet het en elke krismis vir hom 'n rosyntjiekoek gegee het. En vanuit die hemel, het sy dit gesien en dankbaar gewees dat sy die regte keuse op aarde gedoen het.

Ou Vrek was egter so besig om sy eie brandwonde te krap dat hy nie aan enige-iets anders kon dink nie.

© Stof 2003/04/17
.