stof tot stof, stof tot nadenke:
'n stowwerige gegriffel
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!

Met dank aan God drie-enig vir al die seëninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!

Jackie en Cazandra word deur Vader geseën met 'n huis
Artikels Indeks
Stof se Tuisblad
Kopiereginligting

Dit is 22 Mei 2013. 'n Groot dag. Baie gebede deur baie omgee-mense het Vader se oor bereik en Hyself het die owerhede opdrag gegee om Jackie en Cazandra met 'n huis te seën. 'n Regte huis met baksteenmure, plafonne, 'n teeldak en selfs warm water en elektrisiteit!


Voor die trek: Ons kombuis...

Ons suite...

Na baie jare met slegs die blote hemel as dak en 'n swerwersbestaan, is hulle moeg. Die weer en natuurelemente het hulle merk op hierdie twee mense se lewens gelaat en hulle 'n paar knoue gegee wat ander nie sou kon oorleef nie.

Vader het hulle egter deur daardie jare gedra en beskerm teen al die gevare van 'n lewe op straat en in die bos. Hy het Sy prima engele opdrag gegee om deurlopend rondom Jackie en Cazandra te wees. Danksy Sy bewaring is hulle bewaar tot vandag, om die voorreg van 'n eie huis te mag beleef.


Ons voorstoep


Kopieregkennisgewing:
Hierdie werke is die intelektuele eiendom van Stof. Klik hier vir volledige kopiereginligting.


Ons en ons bure

Daar was 'n paar mense wat hulle nooit in die steek gelaat het nie. Mense wat ten spyte van ondankbare bevooroordeeldes, gehoorsaam gebly het aan Vader se opdrag om jou naaste soos jouself lief te hê. Stof sê vandag dankie aan daardie mense en eer hulle vir hul gehoorsaamheid.

Al was die laaste woonplek in die opelug en al het elemente hul tol daar geëis, is afskeid van 'n vorige woonplek tog maar nostalsgies. Die lewenslesse wat Vader hierdie twee mense mee verryk het in hulle tyd van swaarkry, het hulle egter toegerus om van hier af, hierdie wysheid te gebruik om ander te kan dien, wat steeds in nood is.


Ons groet ons vorige woonplek

Ons ontruimde suite

Die proses het enkele jare gelede begin toe Cazandra deel was van 'n span wat op verskeie bedieningspunte evangeliese uitreike gehou het. Vader het toe reeds voorsien dat sy in hierdie proses met die regte amptenare verhoudinge opgebou het.

Hierdie verhouding tussen haar en die owerhede het daartoe gelei dat heelwat ander inwoners van die een projek waarby sy betrokke was, ook vandag en oor die volgende twee dae, huise ontvang.


Herhinderinge...

Saam met 'n kennis

Hiermee ook 'n besondere woord van dank aan die amptenare Annetjie, John, Linda en Joshua, wat altyd bereid was om die tweede en selfs derde myl te stap saam met die begunstigdes tydens die aansoek- en administratiewe prosesse te midde van baie teenstand van enkele van hul kollegas.

Die oomblik van vertrek het aangebreek en die opelug gastehuis is met gemengde gevoelens agtergelaat. Dit is met hartseer dat ons kon terugkyk na die wat agterbly en vannag steeds onder die blote hemel slaap. My wens is dat Vader hierdie mense ook spoedig sal seën met goeie verblyf.


Klaar gepak

Gereed om te vertrek

Onderweg na die nuwe adres, was daar min woorde, maar 'n voelbare afwagting. 'n Dankbaarheid wat die voertuig se kajuit gevul het met 'n gevoel van afwagting op 'n nuwe lewe in 'n huis, waar die ontberinge van verskeie jare, net as herhinderinge sal leef.

Met ons aankoms by die nuwe adres, het die vroegoggendson die skoon nuwe strate en rye leë huise prentjiemooi laat lyk. Dit was asof die omgewing hom ook voorberei het op die goeie dinge wat Vader vandag hier gaan laat gebeur.


Ons nuwe straat

Dean seën ons met 'n luukse duvetstel

Shikrastraat, 'n splinternuwe straat wat nog nie eers op kaarte voorkom nie, het ons verwelkom. Al die amptenare, buiten 'n politieke amptenaar wat baie belangrik probeer wees het en die atmosfeer probeer bederf het met sy oordrewe selfbeeld, was vriendelik en hulpvaardig.

Hulle geduld en bereidheid om die toewysings te laat vlot was opvallend. Tydens die versoek om hul publiek te bedank, het die amptenaar met die persoonlikheidprobleem gesê ons kan slegs na sy titel en sy naam en "my staff" verwys, maar nie hulle name nie, omdat hy die groot kokkedoor is....


Die kontrakteur teken die huis af

Van die engele wat in gehoorsaamheid aan Vader, die huis moontlik gemaak het, saam met Jackie en Cazandra

Dit, direk nadat hy homself met groot gebaar en op 'n politieke titel voorgestel het. Hy sê mos hy ag dit nie nodig dat die toegewyde personeel, synde sy "minderes", by name genoem word nie. Hierdie amptenaar het egter niks gedoen om sake te laat vlot nie, maar deur sy egoreis van minagting vir sy kollegas en die begunstigdes, sake net versuur.

Vader laat egter nie toe dat Sy werk skade ly nie. Danksy die amptenare wat hulle nie deur 'n ego laat intiimideer het nie, maar in gehoorsaamhed aan Homself, meer as hul deel gedoen het om die toekennings te laat vlot, het een narcis se ego nie daarin geslaag om skade te doen nie.


Ons huisnommer

(Sodra die name van die ware omgee-amptenare ingewin is, sal dit hier gepubliseer word.)


En nou begin ons aflaai

Die kantoorpersoneel het na hierdie episode, vir Jackie en Cazandra onder hul vleuel geneem. Jackie en Cazandra het die voorreg gehad om die heel eerste mense te wees wat hul huis in hierdie ontwikkeling ontvang het. So het Vader hulle weereens van Sy guns verseker.

Daarna het Theo Hardyman, die ontwikkelaar, hulle met 'n besondere hartlikheid ontvang. Hy het saam met hulle na hul huis gegaan en saam met hulle deur die dokumente gegaan en seker gemaak hulle verstaan alles. Daarna het hy die huis afgeteken en hulle gelukgewens met hul nuwe woning.


'n Vriend help aflaai

Jackie by sy voordeur

Die uitpak was 'n emosionele belewenis. Elke item wat van die sleepwa af ingedra is, is soos 'n kleinnood hanteer. Daarna is dit sorgvuldig op die regte plek neergesit. Nadat die laaste vrag afgelaai is, het Stof 'n item in 'n bruin kombers gaan haal en dit self ingedra.

Die afwagting was groot oor wat dit sou wees. Die foto spreek boekdele, van dankbaarheid en waardering toe Jackie die kombers lig en sien dat Lorraine hulle geseën het met 'n pragtige stoof, oond en al! So is hul grootste vrees, naamlik hoe hulle gaan kos maak, onlont deurdat Vader hierdie geskenk vir hulle gestuur het.


Verbaas oor die pragtige stoof waarmee Lorraine ons geseën het!

Die toekenning van die huis is gedoen. Die trek is gery. Die inpak is gedoen. Nou lê daar 'n hoopvolle toekoms vir Jackie en Cazandra voor, in hul eie splinternuwe huis!

Alle eer aan God-drie enig vir Sy liefde en voorsiening in hierdie voorsieningswonderwerk. Sonder Hom, sou dit nooit moontlik gewees het nie. My versoek aan elkeen wat hier lees, is om om asseblief saam te stem voor Vader dat hy dié wat agtergebly het in ou woonplek, spoedig net so ryklik sal seën.

Soli Deo Gloria!


© Stof
.