stof tot stof, stof tot nadenke:
'n stowwerige gegriffel
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!

Met dank aan God drie-enig vir al die seëninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!

Engele in die Suiderberge...
Chrissie se verjaardag
Artikels Indeks
Stof se Tuisblad
Kopiereginligting

Dit is Donderdag 18 Augustus 2012. Chrissie verjaar. Soos enige verjaardagmeisie, wil sy darem op hierdie dag, bietjie mooier lyk. Maar die lewe het nare draaie met haar en haar man, Jackie geloop. Mooimaak en bietjie bederf, is nie vanjaar moontlik nie. Maar haar Vader het haar nie misgekyk nie. Hy het spesiaal vir vandag, 'n span engele bymekaargemaak om haar wens waar te maak. Ines van die Westhuizen, adjunkhoof van die Suiderberg skool en Antionette Lombaard, skoonheidskundige en lektor in skoonheid aan die skool, het hulle harte oopgemaak en 'n heerlike verrassing vir Jackie en Chrissie gereel.


Hare pas gewas.

Toegewyde en geoefende hande begin die mooimaakproses.

Om agtuur die oggend ariveer ons by die skool. Ines wag ons in in die ontvangsarea. Hy wys ons die pad na die salon. In die salon ontmoet ons vir Antionette Lombaard en haar span skoonheidstudente. Mense wat gereedstaan om van vandag, iets spesiaal te maak. Chrissie word gemaklik gemaak by die wasbak. Geoefende hande spoel die warm water deur haar hare, en bring die lewe in haar hare, met sjampoe, opknapper en nog 'n toordingetjie of twee, weer terug. Chrissie se gesig vertel die hele verhaal. Dit is duidelik, hierdie bederf geniet sy terdee.

Kopieregkennisgewing:
Hierdie werke is die intelektuele eiendom van Stof. Klik hier vir volledige kopiereginligting.

Na die was, word sy begelei na die snystoel. Daar verwyl sy 'n tydjie dat haar hare gereed kan kom vir die knip. Antionette neem self die skêr. Met omgee uit haar hart en met geoefende hande wat getuig van jare se ondervinding, word hand en skêr een in 'n skoonheidstransformasie wat vandag, 'n groot verskil in twee mense se lewens maak. Na die sny word die elektriese kruller nadergetrek. Behendige hande manipuleer die kruller deur Chrissie se hare en bring weer 'n dimensie in haar na vore waarvan sy al 'n wyle gelede, vergeet het.


Kyk hoe mooi lyk ek nou!

Saam met een van die omgee-spanlede.

Na die hare transformasie, verras Antionette vir Chrissie met 'n uitnodiging om te gaan sit by die naels tafel. Van die spanlede, het aangebied om haar naels en grimering te doen. Dit is duidelik, sy het dit nie verwag nie. Chrissie neem haar plek in en haar naels word bederf met voorbereiding in 'n skotteljie met allerlei mooimaak geheime in die warm water ingemeng. Van die ander spanlede begin met haar grimering. Met die res van die span besig om Chrissie se bederf spesiaal te maak, is Antionette nou los om Jackie se hare en baard mooi te maak.

Jackie is reeds terug van die harewas af, en geniet dus nou 'n stukkie bederf waarna hy al so lank smag. Antionette se behendige hande stuur die skêr akuraat en met elke knip, is dit reeds duidelik, Jackie is besig om weer al hoe meer te begin lyk na die prins, waarmee Chrissie in 2007 getrou het.


Die verjaardagmeisie se man moet darem by haar pas: Jackie in die stoel...

Nadat die span engele elkeen hulle taak voltooi het, is dit duidelik, hulle werk is elke stukkie moeite wat daarin geploeg is, werd. Chrissie lyk soos die prinses wat pas gered is deur haar prins langs haar. Gemoedere is ook sommer ligter en die dag begin vir beide Jackie en Chrissie, weer kleur te kry.

Aan die skoonheidspan van Suiderberg Skool, hiermee my groot dank vir julle toegewyde omgee. Vir julle gehoorsaamheid om iemand vir wie 'n besondere dag in haar lewe andersins maar vaal sou wees, so op te helder en haar en haar man weer hoop te gee. Aan elke engel wat deel van hierdie span gevorm het, julle omgee-opoffering word baie waardeer. Die passie en opregtheid waarmee julle hierdie take verrig het, het beslis nie ongemerk verbygegaan nie. Aan die voorsanger met die goue stem en haar koor wat vir Chrissie verjaardagwense in sang toegewens het, net soveel dank. Julle musikale wense, is virseker in Chrissie se hart ingebrand en sal altyd deel van haar positiewe herhinderinge bly.

Reis 'n bietjie verder saam, deur die res van die foto's hieronder en ervaar die omgee wat ons boetie en sussie vandag ervaar het, aan die hand van ware omgee-mense.


Wat is 'n verjaardagmeisie dan nou sonder mooi naels: Nog 'n engel besig om die dag spesiaal te maak!

Die voorbereiding vir die naelversorging.

'n Bietjie verf kan mos nou nie skade doen nie. Kyk hoe mooi word ek gemaak deur nog 'n omgeemens!

Die naels begin al hoe mooier lyk...

Die prins in haar lewe kry sy beurt.

Waag dit net om vir my te sê ek lyk nie mooi nie...

Saam met haar prins, haar voorsanger en haar skoonheidspesialis.

'n Dankie drukkie vir 'n omgee mens: Baie dankie, Antionette!

Terug op kantoor na 'n heerlike pamperlang. En baie trots op haar prins wat wat ook die bederf wat hom toekom, gekry het vandag.

Herhindering, wat weereens bewys het, daar is omgee-mense in hierdie wêreld. Mense wat as individue en as span, altyd bereid is om 'n verskil in 'n medemens se lewe te maak.

Raak vir 'n oomblik bietjie stil. Dink oor wat jy vandag vir ander beteken het. En as jy jou kop in skaamte moet laat sak, volg hierdie omgee span se voorbeeld. Wees daarna gehoorsaam aan jou Skepper-Vader se omgee opdrag, en maak vandag nog, daardie verskil.


Jackie en Chrissie saam met die skoonheidspan van die Suiderberg-Skool.

© Stof 2012/08/18
.