stof tot stof, stof tot nadenke:
'n stowwerige gegriffel
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!

Met dank aan God drie-enig vir al die seëninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!

Owerhede buig voor Vader
Artikels Indeks
Stof se Tuisblad
Kopiereginligting

Saam met die seën van 'n voertuig wat deur Vader voorsien word, kom gewoonlik die administrasie van die aardse rentmeesterskap daarvan. Dit is dikwels daar waar die bose kom en deur owerheidsdisfunksie (owerheidsgehoorsaamheid aan die bose), Koninkrykswerk wil probeer saboteer.

So gebeur dit dat 'n dubbelwandvoertuig wat ideaal geskik is om koue kos te vervoer, vir haar padwaardigheidstoets gaan.

Agter die toonbank sit 'n persoon. Haar oogklapbestaan maak dat sy nie 'n woord hoor van die getuienis oor wonderwerkende voorsiening van die voertuig nie. Haar hele wese poog om deur magsvertoon, die klant te probeer wys dat sy die enigste vorm van inteligente lewe in die omgewing is. Haar inherente selfvertoue is so min, dat al manier om waardig te probeer voel, is om almal om haar te vertrap. Deur so met hulle te kommunikeer dat sy hulle hopelik kan oortuig dat sy die alfa-skepsel in die kantoor is.

Sy doen 'n paar dinge op die terminaal. Dan sê sy heel minagtend vir die geseënde wat die koelvoertuig as geskenk ontvang het, dat sy 'n probleem met die onderstelnommer sien. En voordat sy deel van die oplossing word, spreek sy dadelik dood oor die voertuig. Verduidelik meerderwaardig dat daar nie regtig 'n oplossing is vir die situasie nie. En so tussendeur die skimp, of dit nie beter is om die voertuig maar te versaak nie.

Tussendeur vra Stof 'n paar vrae oor die posisie op die voertuig van die genoemde nommer, en enkele spesifieke vrae daaroor. Maar sy bly voortstoom op haar doodspraak paadjie.

Kopieregkennisgewing:
Hierdie werke is die intelektuele eiendom van Stof. Klik hier vir volledige kopiereginligting.

Uiteindelik is Stof en 'n kollega sowel as die voertuig betrokke, na 'n klaringskantoor waarheen hulle verwys is. Daar gekom, word hulle hardhandig vertel dat die netwerk af is en dat daar geen oplossing binne die afsienbare toekoms moontlik is nie.

Net daar besluit Stof se kollega om die vloeke wat die genoemde persoon by die toetsstasie gespreek het, in Jesus Naam te breek. Om Sy oorvloedige seën daaroor te spreek en die saak opnuut, in Vader se hand te plaas. Sy kollega kry minute later, 'n visie van Pa af oor 'n spesifieke toetsstasie waarheen ons moet gaan. Dit is uit die pad uit, maar in gehoorsaamheid gaan ons. Daar gekom, is die teenwoordigheid van Vader voelbaar in die kantoor. Straal elke amptenaar, 'n vreugde uit wat getuig van 'n geesvervulde mens. Die toetsbeampte neem die papiere, waarop minute gelede 'n seën uitgespreek is. Hy besoek die voertuig, en vind geen fout met haar nie. Hy deel so in die stap na en van die voertuig, nog 'n getuienis ook met ons oor sy eie lewe. Met die uitreiking van die padwaardigheidsertifikaat, spreek nie hy of sy kollega dood oor die voertuig nie. Die geldige, wettige dokumente word uitgereik en ons vertrek in dankbaarheid.

Na die uitreiking van hierdie padwaardigheidsertifikaat, is die volgende stappie die verkryging van die nuwe onderstelnommer. Tradisioneel, het polisieklarings-beamptes 'n reputasie as 'n spul self gesentreerde narciste wat die bietjie outoriteit wat Pa soms aan hulle delegeer, al te graag misbruik om hulself beter te laat voel deur hulle klante te vertrap. Stof kniel voor Pa en sit hierdie stukkie inligting voor Hom neer. Hy verduidelik vir Pa dat hy moeg is, dat hy nie meer die menslike krag het vir die gesukkel wat volg nie. Pa hoor Stof se gebed en seën hom met besondere gemoedsrus oor die saak. 'n Bonatuurlike kalmte neem besit van hom. Pa wys hom 'n prentjie dat hy na Lytelton se kantore moet gaan, dat hy moet wegbly van Wattloo af, want daar sal nie seën op hom wag nie. Pa het gepraat, en Stof vat die pad na Lytelton. Daar begroet Chantel hom. Jesus se liefde straal uit haar uit. Haar deurlopende verbinding met die Heilige Gees is duidelik sigbaar. Sy doen die nodige voorbrand vir die klaring, en verwys Stof na 'n kollega in Pretoria wes vir 'n ander stukkie prosedure.

Aangekom in Pretoria Wes, waardeer Stof weer opnuut die vêrsiendheid en diens van Chantel, want daar word hy geseën met een van haar kollegas wat die toonbeeld is van alles wat 'n Geesvervulde mens nie moet wees nie. Die doel agter die besoek aan hierdie menslose, hatige mens, is egter gou duidelik. Stof vra Pa se seën op dié deel van die transaksie, en ewe onwillig, maar gedring deur Pa se opdrag aan hom, doen Wessel sy werk vinnig en sonder die tradisionel sadistiese vertragingstaktiek waarvoor hy berug is. Hier het Stof gesien dat Pa selfs die mees onwillige mens kan omdraai om sake te laat vlot. Soms wonder Stof, het Wessel ooit besef dat hy op hierdie dag, deel was van 'n magtige getuienis van dié God se almag, wat hy so doelbewus minag deur sy optrede. Pa gebruik soms die vreemdste kanale...

Stof is terug na Chantel toe. Die hele pad daarheen, vra hy Pa se seën op die stukkie papierwerk wat volg. Daar gekom, neem Chantelle die papiere, stem saam met Stof dat die padwaardigheidsertifikaat binne drie dae verval en dat dit noodsaaklik is om die sakie vandag nog af te handel. Sy sê egter dat die stelsel geprogrammeer is om die finale klaring drie dae terug te hou vir kontroledoeleindes. Dit sou egter die gevolg hê dat die padwaardigheidsertifikaat wat hierbo oor getuig is, sou verval. Voordat sy die nodige insleutelwerk doen, stem sy saam met Stof voor Pa dat Hy nou beheer neem. Eers nadat ons pa se se hierop gevra het, sleutel sy die besonderhede in. Binne minute is die klaring afgehandel en is dal die korrekte besonderhede vasgelê op die netwerk. Hierdeur het pa weereens bewys, Hy is Koning! Hy het die outoriteit om enige mensgemaakte netwerk direk opdrag vanuit Sy troonsaal te gee, en die tegnologie, het geen keuse as om te gehoorsaam nie. Hy, die Skepper van die silikon wat die mens bloot maar net verwerk het om 'n bepaalde funksie in rekenaars te vervul, kan daardie silikon enige oomblik opdrag gee, om presies te doen wat Hy beveel.

Die volgende dag is Stof na Akasia se registrasiekantore, waar die finale registrasie van hierdie voertuig, sonder enige probleem en besonder vinnig, afgehandel is. Alle eer aan my Skepper-Vader!

Hiermee ook my groot dank aan Chantel. 'n Vrou wat eerstens so straal van Jesusliefde, dat almal om haar daardeur aangeraak word. 'n Vrou wat bereid is om in 'n omgewing te werk, waar omgee vir 'n medemens, tradisioneel ontbreek. Sy is gehoorsaam in haar roeping om sake wat satan gewoonlik gebruik om mense te ontmoedig of selfs kwaad te maak, om te keer tot 'n kragtige getuienis tot eer van haar Skepper. Aan Chantel is Stof se wens, dat Pa haar in oorvloed sal seën vir die verskil wat sy daagliks in moedelose klante se lewens maak. Stof is seker, daardie stukkie waardigheid en Jesus-liefde, wat sy saam met elkeen van haar klante huis toe stuur, het menige klante al in die middel van die nag weer laat wakker word, en hulle genoop, om net daar in gebed voor Pa te vra om in hulle lewens in te gryp

Hierdie is 'n getuienis, maar ook 'n vermaning sowel as 'n bemoediging. 'n Getuienisdeel wat bewys dat die owerhede, wat slegs by tye 'n bietjie gedelegeerde gasag het, wel op die einde voor Vader as Gewer daarvan, sàl en moet buig. Dat hulle wat dood spreek, en selfs die klein bietjie gedelegeerde gesag teen die Gewer daarvan probeer gebruik, se doodspraak nie Koninkrykswerk sal saboteer nie. 'n Getuienis dat Vader altyd getrou is en op die regte plekke, ook Sy kinders het. Hierdie getuienis bewys ook dat Vader onomstootbaar, volle outoriteit het oor die heelal en alles wat sy skepsels op aarde bedryf. Hy het weereens hier bewys dat 'n menslike rekenaarstelsel wat deur twee kantore as aflyn beskryf is, in perfekte werkende toestand was by díe stasie waar Sy kinders gekonsentreer is. As Hy lewe spreek oor 'n stelsel, dan sal dit werk. As Hy lewe spreek oor 'n Koninkryksvoertuig, dan sal daardie voertuig haar volle kwota wonderwerkende seën ontvang.

'n Vermaning aan elke persoon wat van tyd tot tyd, wel 'n klein bietjie gedelegeerde gesag van Vader af ontvang om hulle aardse taak te kan verrig: Hierdie bietjie gesag, het nie ten doel om deur jou gebruik te word om jou eie beuel te blaas nie. Dit het nie ten doel dat jy dit gebruik om 'n gelykgeskape medeskepsel, op 'n kru manier mag reduseer tot 'n minderwaardige skepsel sodat jy beter oor jouself kan voel nie. Maar bo alles, dit het beslis nie ten doel dat jy dit teen die Gewer daarvan probeer gebruik in die sabotasie van Sy plan nie. As jy aan enige van hierdie drie vergrype skuldig is, het jy beslis iets om te bely...

Die bemoedigiging: In hierdie gebeure, het Vader bewys dat Hy nie sal toelaat dat menslike magbeheptheid, in die pad staan van die volbringing van Sy plan nie. Hy het bewys dat Hy dié wat Hy genoeg vertrou om hulle te seën met Hy hulpmiddele om Sy werk te kan doen, sal seën en Sy bewarende hand sal hou oor daardie mense en die middele wat Hy gee. Hy het veral bewys dat Hy sy gestuurdes elders het, wat wel hulle gedelegeerde gesag, tot Sy eer gebruik, hulle wat die gemoedrus kan hê, dat Pa hulle ryklik sal beloon vir hulle goeie rentmeesterskap.

Alle eer aan ons Skepper Vader, vir die kragtige wyse hoe Hy weereens hier bewys het, Hy is en bly die oppergesag oor alles en hoef net 'n woord te spreek, en alles val in plek.

© Stof 2010/11/16
.