'n Wyle gelede ry Stof en Gawie 'n paar noodsaaklike draaie. Die naald wat die tenkinhoud aandui, lê doodstil. Stof vra so in die stilligheid vir Pa om tog te voorsien dat daar genoeg brandstof sal wees om Gawie weer veilig by sy woonplek te kry.
Ons Vader is getrou. Hy hoor ons gebede. Soms verhoor Hy ons gebede so presies, dat dit vir ons 'n les moet wees om Hom vir die groter oplossing te vertrou, en nie net die onmiddelike noodsaaklike nie. Ons ariveer by Gawie se woonplek. Stof sê stilweg dankie vir die genade. Oppad uit die terrein van Gawie se woning, raak die voertuig stil. En sowat driehonderd meter buite die werf, staan sy. Stof sit eers doodstil. Dink oor hoe dit nou kon gebeur. En dan kom die prentjie so duidelik soos daglig voor hom op: Hy het mos vir Pa gevra vir genoeg brandstof om vir Gawie by sy woning te kry. Maar hy het nie verder gedink as wat sy neus lank is nie. Hy het vergeet om te vra dat hyself ook nog sy eie kaya kan haal. Net daar besef hy, dit was 'n presiese gebedsverhoring. Vader wou hom leer om mooi te dink wat hy vra, want dikwels sal Vader, as 'n lessie, 'n gebed soos hierdie, woordeliks verhoor.
Net daar dank hy vir pa vir Sy lessie. En vra vir 'n antwoord oor hoe om by sy eie kaya uit te kom. Enkele sekondes later, kom 'n ander vriend verby. Met 'n kan op sy bakkie. En hy nooi Stof om saam te ry na 'n pompstasie. Vriend kry dit op sy hart om 'n ruim hoeveelheid brandstof in die kan te tap. Terug by die voertuig, vul hulle weer die voertuig op. Vriend laat blyk toe dat hy hierdie brandstof graag as geskenk wil gee vir Stof.
Lees hierdie getuienis mooi, Hierin leer jy minstens drie dinge.
- Dat dit nie altyd wys is om te vinnig net oor die nou en hier te bid en die volgende sekonde se voorsiening te vergeet nie.
- Dat Pa die reg het om jou op 'n manier soos hierbo, 'n ligte rapsie te gee omdat jy Sy voorsiening onderskat het.
- Dat Hy jou egter so lief het, dat Hy jou nie gaan laat in die situasie waar jy jouself laat beland het nie. Hy sal, soos hierbo getuig, altyd meer uitkoms as die absolute minimum voorsien om te wys, Hy wil graag sien dat Sy kinders ook gemaklik kan funksioneer.
Mag hierdie getuienis, jou vertroue in Vader se voorsiening aanraak op so 'n manier, dat wanneer jy weer tot Hom spreek, jy jou volle behoefte vrymoedig aan Hom sal bekendmaak. Jy is Sy maaksel. Daarom het Hy jou lief genoeg, om as jy in geloof iets voor Hom vra, vir jou ja te wil sê.