Middel 2011. Skerp pyne en bitter ongemak wat met die meeste bewegings gepaard gaan. Allerlei uiteenlopende menslike slimmighede word 'n groot frustrasie. Stof besluit, hy gaan weer 'n keer hierdie saak voor sy Vader neerlê.
Enkel dae later kruis Stof paaie met George Kastis. 'n Man wat sensitief is vir die wil van sy Skepper. Wat nie skroom om 'n Woord te bring as dit hom opgelê word nie. Stof en George sit op twee stoele buite George se kerk en gesels oor ander gemeenskaplike sake. George raak meteens vir 'n oomblik doodstil. Dis duidelik dat die Heilige Gees aan die werk is. En oomblikke later, sê hy ewe kalm en rustig, dat hy gesien het dis Stof se middelrif wat pla. Dat dit nie nodig is vir enige ander medikasie of konsultasies nie. Dat Stof net weer moet terugkom in sy ou gewoonte om meer te stap.
Enkele dae daarna, begin die las te wyk. Doen Stof steeds sy gereelde stapsessies in die nag. Tye wanneer hy loop en voor Pa buig in gebed terwyl hy so stap.
So gebruik Pa dikwels liggaamlike kwale om ons meer gereeld na Hom te laat kom. Hier het Hy toegelaat dat 'n midderif begin kla omdat Stof vir 'n tydjie minder gebedsmyle gestap het. Hy het ook toegelaat dat dit lastig genoeg is, dat die boodskap deurdring. Maar Hy is ook genadig. Nadat Stof Sy Woord ernstig opgeneem het, en weer meer gebedsmyle begin stap het, het die kwaal verdwyn.
In hierdie getuienis is dit duidelik hoe ons Vader soms ongemak toelaat, maar so getrou is dat Hy dit net so verwyder ook as daar gehoor gegee word aan Sy Woord. Mag jy ook Sy stem herken, as Hy per geleentheid met jou gesels op hierdie wyse.
Aan Hom alleen al die eer!