Dumu: 'n veselglas sleepwa waarin verkoelde of bevrore kos vervoer kan word. 'n Gebedsaak. Stof had 'n behoefte aan 'n voertuig waarin hy geskenke kos kon vervoer sonder dat dit onnodig aan hitte tydens die vervoerproses blootgestel word. Maande lank het hy laag gekniel hieroor voor Pa.
So gebeur dit toe mos dat 'n vriendin van Stof, 'n presies geskikte slaapwa vir hom aanbied op 'n dag toe hy dit die minste verwag het. Stof is direk daarna ook geseën met die nodige om die tegniese sake wat aandag nodig had aan hierdie sleepwa, te kon hanteer. Stof vertrou steeds vir die nodige vir die oordrag van die sleepwa, maar weet dat Pa nooit 'n taak half doen nie. Daarom loof hy nou reeds vir Pa vir die voorsiening van die administratiewe en toetskoste.
As jy dus per geleentheid agter 'n veselglaswa ry met die naam Dumu op haar regter-agterhoek, weet dan, jy was pas getuie van 'n wonderwerk. Sou jy dit dalk nodig ag om verby te steek, groet die bestuurder, want dalk is dit net hierdie stowwerige begenadigde wat vandag hierdie getuienis met jou deel.
Alle eer aan my Vader vir Sy voorsiening, en groot dank aan 'n gehoorsame skenker vir haar gehoorsaamheid aan haar Skepper in hierdie saak.