|
|

stof tot stof, stof tot nadenke: 'n stowwerige gegriffel
|
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!
|
Met dank aan God drie-enig vir al die seëninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!
|
| | | |
|
Khanya bring hoop vir Telkom
|
|
| | |
|
Dit is laat Dinsdagmiddag. Die weer is skaflik, maar is tog ietwat weemoedig. Sopas lees Stof mos toe ook op Facebook hoe ondankbare mense net heeltyd kla. En as hulle nie kan kla nie, rede soek om te kla. Hy kry selfs 'n uitjou omdat hy die kermende met 'n seëngroet op sy monitor verwelkom...
Stof is op die oomblik besig om 'n paar materieële dinge in sy lewe te struktureer. Dinge wat maar oor jare mos elkeen in sy eie rigting ontwikkel en so raak een persoon se belange soms kontradiksies vir mekaar.
Een van hierdie sake is enkele strukturerings rondom 'n Telkom lyn wat hy gebruik, en waar daar bepaalde aanpasings nodig is. Met 'n swaar hart neem hy die handstuk. Hy skakel die Telkom navraagnommer. 'n Stem antwoord. Haar naam is Khanya. Haar stemtoon getuig dat sy 'n wedergebore mens moet wees. Haar entosiasme om tot diens te wees op 'n laatmiddag, getuig van respek vir elkeen wat sy tot tot diens kan wees, al is tjaailatyd so naby.
Soos die meeste van ons weet, behels die opleiding van die meeste oproepsentrumoperateurs gewoonik die volgende scenario: Daar word 'n klompie vrae wat klante gewoonlik vra, as voorbeelde gebruik, en die operateur word geleer om bepaalde voorafopgestelde antwoorde te gee. As die vraag wat die klant vra, iets anders is as die vrae wat hulle geleer het, word hulle geleer om die standaardantwoord wat die naaste aan wat hulle dink die antwoord is, te gee. En as die klant weer vra omdat hy nie 'n bevredigende antwoord kry nie, gee die konsultant hom 'n afjak... So skep hulle daagliks massas knorrige klante.
In die lig van hierdie scenario, is Stof huiwerig om sy vrae te stel, want die vrae is onkonvensioneel. Dit gaan oor die herstrukturering van 'n bestaande lyn, sowel as koste implikasies gepaardgaande hiermee, ook die modus operandi om die plan in werking te stel.
|
|
Khanya laat egter Stof se mond oophang van verbasing. Dit blyk duidelik dat sy selfs verstaan waarom Stof hierdie kombinasie van vrae het. Te midde van die feit dat hierdie vrae funksionele aspekte, tegniese aspekte en mammomsaspekte bevat, sowel as kombinasies daarvan, begryp sy elke vraag perfek. Sy verstaan ook presies waarom dit gevra word. Dit is duidelik dat sy nie van 'n monitor af standaardantwoorde aflees nie, maar deur logiese denke gebasseer op deeglike kennis van haar produkte, die vrae elke keer, die eerste keer antwoord op so 'n manier dat Stof die antwoorde kry wat hy nodig had. Toe ons groet, voel dit soos 'n ou familielid wat herontdek is.
Stof wil vandag sê: Khanya, baie dankie vir jou toewyding. Jy kon soos soveel van jou kollegas so gou as moontlik probeer ontslae raak het van hierdie stowwerige inbeller, of hom gefrustreer het met antwoorde wat nie sy vrae beantwoord nie. Maar jy het gekies om deeglik te luister wat die situasie is, jou kennis logies te orden en 'n antwoord saam te stel, wat elke aspek van die navraag, suksesvol aangespreek het. Mag jy oorvloedige seën daarop ontvang.
Ek vertrou dat Khanya se bestuur ook hierdie artikel lees. Ek beveel ten sterkste aan dat julle Khanya se naam bo-aan die lysie sit van beamptes wat kwalifiseer vir dubbele prestasie bonusse. Dit is werknemers soos sy, wat Telkom se reputasie hoog hou. Mag haar kollegas, haar as inspirasie sien en ook daarna strewe om self ook, haar menseverhoudings- en effektiwiteitsvlak te bereik.
Mag Khanya se toekoms besaai wees met veelvuldige seëninge, reg uit Vader se Hand!
.
|