So in die verte vanwaar ek sit, sien ek die ma van een van die kunstenaars op die liedjieskryfkursus, besig om broodjies en koffie voor te berei vir die kursusgangers. 'n Oomblik se wegbreek van die skryfblok af, bring my in 'n gesprek met haar. Ons deel oor 'n paar kreatiewe dinge en oor haar kind se talent. Haar kind wat oorloop van talent, 'n mesie wat nie bang is om haar kreatiwiteit te ontwikkel nie. Dit blyk toe dat hierdie ma, een van my laerskool klasmaats was. So word ou bande weer opgetel, en 'n stukkie van Stof se wortels word weer herontdek.
Anita vertel my die verstommende getuienis van haar dogter se gehoorgebrek, haar deursettingsvermoë deur 'n klomp ooroperasies, maar bo alles, die wonderwerkende wyse waarop wat die Here self haar dogter se gehoorprobleem genees het. Die genesing is so volkome, dat sy vandag soos 'n nagtegaal sing, nootvas is en al die selfvertroue het wat nodig is vir 'n openbare sangloopbaan.
Tydens die breek in in die kursus ontmoet ek Anita se man, Gert. Hy gee vir my 'n getuienis van Pa se genade en voorsiening in hulle lewe, wat my dankbaarheid weer opnuut laat opvlam. En daarom, kan ek my Skepper vandag loof, vir hierdie inspirerende mense, wat hy op 'n dag wat my eie krag min was, oor my pad gebring het. Mag Anita, Gert en Alida, Pa se mees oorvloedige seën in hulle lewe ontvang.