stof tot stof, stof tot nadenke:
'n stowwerige gegriffel
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!

Met dank aan God drie-enig vir al die seëninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!

Lyf
Ons aardse bestaansvorm.
Artikels Indeks
Stof se Tuisblad
Kopiereginligting

'n Voorlegging aan Prof. Lyfman Baard en promotor Chrissie Ozrolyf ter voldoening aan die vereistes van die graad: D Phil: Lywensharmonie of dalk bloot net 'n sosiale stelling van 'n denker wat die geheel probeer sien in 'n kunsmatig gefragmenteerde verdeeldheid genaamd samelewingnorme...

Motivering: 'n Skroefdraad wat beskadig as gevolg 'n publikasie wat beweer hy is gesaghebbend, 'n eerlik en goed deurdagte artikel, kritiseer met minagting verwerp as onbeskof en dom. 'n Tweede skroefdraad wat geknak is omdat 'n filosoof se mening oor wat ons amal weet, maar oor swyg, as walglik afgemaak word. 'n Derde skroefdraad wat deur 'n skewe moer beskadig word omdat die moer dink sy struktuur is onaantasbaar. En meer as net 'n greintjie moerigheid oor 'n ongeïdentifiseerde stelsel wat vrye denke as onbeskof beskou.

Definisies:

Samelewing: Die saamgegooide massa van enkelinge wat nie noodwendig saamhoort of saamdink nie in 'n voorskriftelike boksie waarin absurde norme hulle almal dwing tot iets wat hulle nie is nie.

Verwarring: 'n Produk van die samelewing se eie kontradiksies.

Wese: Die samestelling van die mens as totaliteit.

Diplomasie: Die toegewing deur die meerderheid wat toelaat dat 'n onlogiese en teenstrydige minderheid duwweletjies om 'n ander se anus mag plant.

Lyfik: Die vorm waarin lyf op aarde geplaas is.

Kopieregkennisgewing:
Hierdie werke is die intelektuele eiendom van Stof. Klik hier vir volledige kopiereginligting.

Lieflik: Die natuurlike aard van die vorm, voordat dit deur 'n samelewing tot walglik hernoem is.

Pretensie: Oordele deur die wat self agter die deur staan en so dié wat die universele denke publiek publiseer, afmaak as dom.

'n Samelewing wat leef in sy eie verwarring. 'n Samelewing wat dit wat hyself as kern van sy bestaan ag, minag?

Die mens is in die vorm van 'n lyf op aarde geplaas. 'n Lyf met 'n magdom einskappe, elkeen daar geplaas en geprogrammeer met 'n doel. Elke eienskap uiteenlopend, tog aanvullend. Elke eienskap met die doel om die ander te komplementeer. 'n Volledige skepsel. Toe word die lyf slim. Hy hedefinieër die lyf. Hy besluit dat sekere eienskappe en emosies wat daarmee saam gaan, mooi is. En ander is ononderhandelbaar boos. Klaar gepraat. Hulle het gesê. Maar wie is hulle....? Nie eers hulle weet wie hulle is nie.

Daar was enkelinge wat, sonder om askies te sê daarvoor, op 'n dag gaan stilstaan het en die entiteit lyf mooi beskou het. Van kroontjie tot toontjie. Oor elke ronding, elke aanhangsel, elke groeiseltjie en uitstulping. En dis hulle wat iets moois gesien het. Iets wat die ander ook sou sien, as hulle net deur hulle eie vooroordele sou kyk.

Nou sit een lyf met 'n pen in die hand en skryf. Die ander lyf staan en predik. En albei slim lywe stem saam, die lyf is 'n verleentheid. 'n Kontradiksie oor die lyf, uitgespreek deur 'n lyf.

Verstedeliking begin. Elke stukkie stad word rondom die gemak van die lyf beplan. En die oomblik as die lywe die stad betrek, word die lyflike dele van die stad as sleg afgemaak.

Die outomobiel bedryf bou voertuie rondom die lyf se vorm en gemak. Maar sodra een lyf, in die gemak van sy outomobiel, ontspan en 'n stukkie van 'n ander lyf aanraak, is die lyf skielik aanstootlik.

En dan skryf twee skrywers. Een oor die lekkerkry van lyfwees en 'n ander oor die natuurlike ontspanningswaarde van die onveranderde en ongemaskerde lyf. En albei is reg, maar albei word veroordeel. Omdat hulle dit durf skryf wat die ander lywe in elk geval dink, maar ten sterkste ontken. Die ander lywe dink dat hulle ontmaskerde denke hulle nou gaan reduseer tot lyflik, en daar vergaan die lieflikheid van lyflikheid binne oomblikke.

Intussen word lywe se status gemeet aan dit wat daaraan geheg word, daaraan gehang word of waarin dit gestoor of vervoer word. Alles eksterne dinge wat opraak, breek en vergaan. Dan sê lyf: skielik "Nou het ek waarde." En as lyf se lyf eendag 'n disfunksie ervaar, kom lyf skielik agter dat die dinge rondom sy lyf, nie die disfunksie kan herstel nie.

Die dag as lyf begin uitsterf, besef hy hy moet gou aanteel, en dan word die stukkies lyf wat hy ontken, skielik na waarde geag. As nuwelyf honger is, word die stukkie lyf wat altyd verbloem en geminag is, aangebied om dit te voed.

Die dag as lyf en lyf mekaar raaksien, begin waardeer, beter leer ken en later lyf-lyf speel, kom daar 'n stuk bevryding oor lyf. Dan ervaar lyf en lyf die volle vreugde van lyfwees. Die volgende dag as lyf vir medelyf sê van die wonderlikhede van lyf, sê medelyf met minagting sies! en trek 'n lyf-gesig. Tog wonder medelyf of hy nie dalk iets gemis het nie...

Die dag as lyf, lyf en al die ander bevryde lywe, 'n dag, 'n naweek of 'n week in die natuur deurbring soos lyf geskep is, is daar 'n vryheid, 'n natuurlike assosiasie met wat lyf bestem was om te wees. 'n Vervulling van ongekettingde lyfwees. Maar dan keer 'n klomp lywe keer weer terug na 'n gemaskerde gemeenskap waar lyf weer skaam-skaam sy eie bestaan minag.

En so word lyf 'n lyfbang skepsel wat homself tot sy grootste bedreiging maak. Die lieflik van lyfwees word verskuil agter maskers, en die lekker van lyfwees word gehoon as ... lyflik.

© Stof 2010/02/08
.