stof tot stof, stof tot nadenke:
'n stowwerige gegriffel
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!

Met dank aan God drie-enig vir al die seëninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!

Versatile, musikale veelsydigheid!
Artikels Indeks
Stof se Tuisblad
Kopiereginligting

Versatile kan maar net nie gaan lê nie. Op Vrydag 12 Januarie 2007 het Versatile weer by Die Bosvelder die verhoog op horings geneem. Vic lyk asof hy met 'n baskitaar en trompet in die hand gebore is. Marliese se stem draf enige noot gemaklik kaf. Vic en Marliese het op meesterlike wyse bewys dat daar wel nog enkele virtuose oor is in die musiekbedryf. Versatile kon aan feitlik al die uiteenlopende versoeke voldoen uit die gehoor. Hulle repertoire is 'n paar honderd sterk, uit uiteenlopende genres. Versatile kan jou laat lag, jou laat huil. Hulle kan jou laat verlang na dae lank verby en jou een nommer later weer laat dans. Vic se baskitaarwerk is meesterlik en sy vingers is duidelik geoefen na feitlik 'n leeftyd se ervaring. Wanneer hy sy trompet neem en Marliese die baskitaar by hom oorneem, kom daar 'n diepsnydende nostalgie los wat nie anders kan as om elke hoorder se hart te raak nie. Versatile is ewe treffend met vokale sowel as instrumentale nommers. Hou vir Versatile dop. Hier kom groot dinge. Intussen hoop ek regtig 'n paar van die hoofstroom musikante het goeie aftreefondse, want as jy eers vir Versatile gesien het, klink hulle pogings maar flou. Om meer inligting oor Versatile te kry of hulle te bespreek terwyl daar nog 'n plekkie in hulle dagboek mag oopwees, epos vir Options Events of skakel 0832106606 en sê jou sê.

© Stof 2007/01/14

Kopieregkennisgewing:
Hierdie werke is die intelektuele eiendom van Stof. Klik hier vir volledige kopiereginligting.

.