Die ritme pols in afwagting. 'n Harley brul agter my. Net toe ek wil koes staan sy duim in die lug. En sy "Hitchen' a ride" by die Harley. Soos wat die note wegsterf vra sy so ewe met 'n soet glimlaggie vir die gehoor wie wil ook graag 'n Harley hê. 'n Tikkie weemoed speel om haar as sy erken sy het nog nie een nie.....
Dis Nita Booyse. Opwindend, anders en opreg. Sy geniet elke noot, elke maat van die ritme. Sy geniet die gehoor en gee met oorgawe haar beste. Die wat luister kan aanvoel haar entoesiasme is nie plastiek nie. Nita het 'n aansteeklike spontaniteit, 'n bruis en borrel wat jou vasgeplak hou op jou sitplek, gereed om enige oomblik op te spring en haar met dawerende applous te beloon.
Nita laat die volk dans, in Afrikaans! Sy weet presies hoe om binne oomblikke elkeen wat luister se hart te steel. Sy glo onvoorwaardelik aan die liefde en bring deur haar musiek hulde aan hierdie wonderlike ding.
Sy ken ook die nostalgiese kant van die liefde. In haar eie komposisie, Ek weet, laat sy jou terugverlang na daardie dae toe jy iemand in die oog gehad het maar te bang was om toenadering te soek. Verlange om weer jou maat se liefdeswoordjies te hoor, word treffend weergegee in haar eie trefferkomposisie, Sê dit weer. En as jy regtig iemand wil afsê, sal Nita nie omgee as jy die snit , Dit kon jy wees, by haar leen nie.
Vanaf middel November is Nita voltyds in die musiekwêreld. Sy verdien die geleentheid terdee. Daar wag 'n hele skare daarbuite wat net wag om Nita se glinster deel van hulle lewe te maak.
Daar is steeds enkele eksemplare van Nita se CD, Net vir jou, beskikbaar en jy kan jou eksemplaar nou bestel vanaf haar webwerf.