|
|

stof tot stof, stof tot nadenke: 'n stowwerige gegriffel
|
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!
|
Met dank aan God drie-enig vir al die seëninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!
|
| | | |
|
Mirka se "Tribute to woman in music"
|
|
| | |
|
Mirka, meer as net nog ‘n soet sangstemmetjie wat van sprokiesverhale en oordrewe ewige romanses sing. ‘n Vrou met ‘n talent, ‘n stem wat in feitlik geen genre hoef terug te staan nie. As sy haar stem in al sy glorie loslaat, dan stroom daar ‘n kragtige energiegolf deur die gehoorsaal. Geen medereisiger, haar uiters vanpaste term vir die gehoor, kan onaangeraak daardeur gelaat word nie. Die applous het skaars gaan lê, of sy verras die medereisigers met ‘n nostalgie vanuit ‘n ander wêreld as sy grepe uit ‘n verskeidenheid internasionale musieksterre se musiekskat op ‘n unieke wyse deel. Elke item, elke lied word deel van elke hoorder se wese, want dit word op so ‘n passievolle manier aangebied, dat dit nie anders kan as om ‘n blywende indruk te laat nie. As die indrukwekkende effekte en ligte dan ‘n item later gedemp word, deel Mirka, gewapen met net haar kitaar en mikrofoon in ‘n pastellig ‘n stuk van haar eie psige. Dan deel sy maskerloos ‘n ware stukkie seer uit haar eie lewe. Deur ‘n paar van haar eie liedjies deel sy haar verhouding met haar ma en haar suster. Dan, deur ‘n paar gedagtes oor wat ‘n vrou in ‘n man soek, ruk sy menige tot stilstand. Deur daarna dan ‘n rou stuk seer uit ‘n romanse te deel, verseker sy elke gebrokene in die gehoor dat hy en sy nie alleen is nie. Dan is dit duidelik waarom geen reisiger ooit teleurgesteld die saal hoef te verlaat nie. Hierdie stukkies gedeelde vreugde en smart kruip diep en blywend in elke hart in van die wat dit inneem. Die gedempte applous daarna is nie omdat die liedjies nie getref het nie, maar juis omdat dit so diep tot die meeste reisigers se hart spreek, dat ‘n luide applous, selfs onvanpas sou wees. Die goue oomblik van stilte na die laaste snaar se klank weggesterf het, is ‘n oomblik van nadenke. Dan kry elke medereisiger die geleentheid om sy eie geraamtes en seer weer in perspektief kan sien, en dan, met die waardering wat dit verdien, miskien selfs met ‘n traan oor die wang, ‘n opreg bedoelde applous uit die hart te gee.
|
|
Die hele stuk is gebasseer op ware feite, selfs skokkend en soms seer, om die stryd, die seer, die teleurstelling, maar ook ‘n getuienis oor die oorwinnig as hulle deur genade die diepste dale van menswees oorwin het, weer te gee. Die proses van stryd en oorwinning word geillustreer deur verskeie eie en internasionale sterre wat se geskiedenis gevoelvol weer te gee en so ook weer hoop bring vir elkeen wat wil hoor. Die treffende hierrondom is dat Mirka nie net ander se laagte, en hoogtepunte op ‘n passievolle wyse deel nie, maar ook haar eie, en dit maak hierdie vertoning besonder geloofwaardig, ‘n suksesresep wat verdien om net suksesvol te wees.
Omdat mense bang is vir hulle eie geraamtes, skaam is vir hulle eie teleurstellings en ten koste van alles, hulle donker kant vir ‘n medemens probeer wegsteek, leef ons in ‘n maskergebasseerde gemeenskap. Vir elke geleentheid is daar ‘n ander masker, ‘n skerm om my teen die gemeenskap en sy vooroordele te beskerm. So word elkeen van ons ‘n veelvoudige maskermeester. Hierdie vertoning van Mirka maak egter jou oë oop vir die genesende krag van die waarheid, en dra die boodskap dat dit reg is om maar jou masker te laat val. As ons elkeen dit doen, en so ook ophou om ander te oordeel oor geraamtes van die verlede, is daar weer ‘n kans op harmonie. Daarmee saam dan die oorweldigende boodskap van hoop, dat elke mens ook kan wen, en uitstyg bo verwerping, seer en omstandigdhede.
Een punt waar menige kunstenaars faal, is die kontras tussen die verhoogpersoonlikheid en die ster. Dis nie vreemd dat die ster tydens repetisies en opstellings, ‘n neerhalende houding teenoor tegnici en medewerkers handhaaf as die gehoor nog nie daar is nie. Tydens ‘n waarneming voor ‘n vertoning, was dit verrassend dat Mirka elke spanlid respekteer en self in die werksaktiwiteite betrokke is. Die dankbetuigings op die verhoog, is dus nie blote toneel nie, maar spruit uit ‘n ware kameraadskap met die span, want sy is bereid om werklik deel van elke detail van haar vertoning te word, ook dit wat menige ander sterre as minderwaardig en ‘n gegewe beskou.
Goeie nuus is ook dat daar binnekort ‘n nuwe laserplaat op die mark is wat elkeen in staat sal stel om hierdie diva ter divas, ook na hulle sitkamers toe te neem. In hierdie produksie, word daar in Afrikaans, deur eie komposisies, weereens ‘n reis deur die lewe aangebied.
Mirka bied jou ‘n unieke vertoning, ‘n verskeidenheid wat laas in Judy Page se extravaganza dae gesien is, en werklik nie maklik geëwenaar kon word nie. Deur haar vir hierdie genesende musikale reis te bespreek, sal beslis vir jou, asook al jou medereisigers daarop, terapeuties wees. ‘n Geleentheid wat uniek is, wat jou, of tot dankbaarheid vir die genade wat jy in jou lewe ervaar, sal stem, of so diep in jou diepste geraamtes gaan krap, dat jy nie ‘n keuse sal hê anders as om die dinge waar jy aandadig was aan ‘n ander se pyn, te gaan regstel nie. Genadiglik is daar deur Christus se genade ook vergifnis vir elkeen van ons se geraamtes.
Mirka se “Tribute to woman in music”, is ‘n moet as jy weer in kontak met jou ware wese wil kom en weer wil leer om sonder maskers en vooroordeel deur die lewe te gaan. Dit bied ‘n reis deur alle aspekte van belewing op ‘n wyse wat alles behalwe vervelig is. Die vertoning is in moderne styl en opgewek, lewendig genoeg dat jou tiener nie sal opstaan en loop nie, tog deur ‘n keurig saamgestelde program, ook lewensnoodsaaklike pitkos vir die soeker. Besonder vermaaklik, maar ook genesend. Terapeuties ook vir dié wat reeds alle hoop in die lewe verloor het. Nie bloot net nog ‘n paar uur van siellose geraas nie, maar ‘n geballanseerde reis waarop alle reisigers tuis sal voel.
.
|