stof tot stof, stof tot nadenke:
'n stowwerige gegriffel
Die middernagtelike gerammel van 'n rustelose koppie. Twee breinselle bots en woordkluise breek oop.
Soli Deo Gloria!

Met dank aan God drie-enig vir al die seëninge wat Hy so mildelik en onverdiend op ons uitstort!

Kuierkonsert by Die Agterplaas saam met Helenè Bester
Artikels Indeks
Stof se Tuisblad
Kopiereginligting

Vrydagaand 25 Augustus 2006. Die Agterplaas gons. Mellville is in afwagting. Helenè Bester het vanaand hiérdie snoesige kuierplek gekies om 'n stukkie van haar hart met die gaste te kom deel. Hanna en Suzette doen elkeen drie take op 'n keer om al die reëlings in plek te kry. Helenè doen 'n paar laaste klanktoetse. Die tafels is reeds gedek met keurige versnaperings.

Dan stap Johann en Stof eers 'n draai deur Melville. Op met die steil trappies wat reg langs Die Agterplaas, bult op, na vyfde laan 'n weg baan. Die strate leef. Elke eetplek is tot barstens toe vol gepak. Die gekwetter van 'n mensemassa wat wegbreek na 'n week se ongenadige arbeid. Na 'n paar blokke te voet deur Melville om eerstehands die gevoel van die sypaadjie aan ons voete te voel, klouter ons weer die steil trappies bult af na sesde laan. Dan weer sowat twaaf trappies weer op tot by Die Agterplaas se stoep. Bo die stoep is 'n treffende patio met 'n tafel en 'n paar stoele. 'n Ideale wegkruipplek vir 'n soeker op soek na sin. 'n Alleenweeshoogtetjie. 'n Paar minute later daar bo in die lug, voel Stof weer mens. Die uitsig, die rustigheid en die teenwoordigheid van 'n kreatiewe atmosfeer is net wat elke kunstenaarsiel nodig het na 'n week in 'n mal gemeenskap wat na bewering normaal sou wees.

Die ouditorium is klaar voorberei. Brode, wat op spesiale bestelling gebak is, loer uit by tradisionele bruin papiersakke. Dié prentjie komplimenteer die verleidelike lekkernye wat op die tafels vir die gaste wag.

In die agtergrond speel sielmusiek wat 'n kuierstemming by uitstek skep. Kunstenaars van alle genres kuier spontaan en deel gemaklik met mekaar. 'n Atmosfeer van afwagting heers. In afwagting op die kreatiewe bederf wat binnekort, in elkeen teenwoordig, se gees 'n stukkie vryheid gaan bring.

Kopieregkennisgewing:
Hierdie werke is die intelektuele eiendom van Stof. Klik hier vir volledige kopiereginligting.

Twee musikante stap in. Paul gaan sit voor die klavier en Junré en haar viool neem plek in by die een mikrofoon. Die eerste note van 'n liedjie vul die lug en Helenè stap in met 'n hartlike verwelkoming in haar stap. Sy stel haarself voor deur die lied, Jy't my Leen genoem". Die gehoor hang aan haar lippe. Veral haar eie komposies tref harte en toon aan die gehoor dat hiedie vrou werklik hart en siel in haar musiek is en dit ten volle geniet. Louis van Rensburg en sy saksofoon gee nuwe definisie aan haar reeds treffende stukke. Louis se klasieke treffer, Voshaarnooi, roer meer hartsnare as ooit tevore, want dit is vanaand 'n duet. Louis en Helenè laat dit klink asof die tweede stem oorspronlik vir haar geskryf is. As die laaste note wegsterf en die meester van nostalgie kyk diep in die oë van die voshaarnooi wat sy duet vervolmaak het, is daar 'n heilige oomblik van stilte voordat die gaste 'n spontane aplous lewer.

Die agterplaas is 'n kuierplek by uitstek. Die gaste is opreg. Pretensie het daar geen plek nie. Met Hanna en Suzette aan die stuur kan dinge nie verkeerd loop nie. Die musiek is fyn gekeur en die musikante stel nie teleur nie. Die Agterplaas het ook 'n gastehuis met ruim en netjiese kamers waar jy die nodige besinning kan kom doen as die druk van die stadslewe vir jou te veel word. Aan Jannie du Toit, die eienaar, al my gelukwense. Jou inisiatief maak 'n groot verskil aan mense se lewe.

As jy weer op 'n dag deur Melville ry, gaan loer in by Die Agterplaas. Miskien vind jy net weer daardie verlore stukkie van jouself, wat jy iewers in die gejaagde lewe verloor het...

Epos vir Hanna by infosa@tiscali.co.za of agterplaas@icon.co.za om meer te wete te kom van dié stukkie hemel.

© Stof 2006/08/26
.